DIE 18de Tjaart Vorster-tennistoernooi, aangebied deur die Hoër Landbouskool Marlow, het van 20 tot 23 Februarie op Cradock plaasgevind.

Daar is op al die bane van Cradock en Marlow en selfs Visrivier gespeel.

In die meisies-afdeling het Oranje Meisie-skool uitstekende tennis gespeel en die goue medalje en die Victoria Manor-wisseltrofee verower. Clarendon High School for Girls was in die tweede plek met die Hoërskool Sentraal in die derde plek.

Oranje se nommer 1-speler, Nicole Twigge, was die enigste onoorwonne nommer 1-speler van die toernooi en het sodoende ’n geskenk van Oschep-apteek ontvang. Die Hoërskool Voortrekker was in die vierde plek, Cradock in die vyfde plek en Hugenote was sesde.

In die seunsafdeling was daar ’n taai stryd tussen die top drie spanne, naamlik Oakdale, St. Andrew’s en Marlow. Oakdale het Outeniqua in die semi-finaal geklop, terwyl St. Andrew’s vir Marlow geklop het. In ’n titaniese stryd het Oakdale vir St. Andrew’s met vyf wedstryde teenoor vier gewen.

Die laaste dubbelswedstryd het die wenner bepaal. Oakdale het die goue medalje, asook die Tjaart Vorster-wisseltrofee ontvang.

St. Andrew’s het tweede geëindig en Marlow het Outeniqua baie maklik geklop om die brons medalje te verower. St. Andrew’s se nommer 1-speler, Dylan Marx, was onoorwonne en het die Ochse-geskenk ontvang.

Die seunsafdeling het só geëindig:

1ste: Oakdale

2de: St Andrew’s

3de: Marlow

4de: Outeniqua

5de: Sentraal

6de: Voortrekker

7de: Hugenote

8ste: Cradock

9de: Fairmont

10de: Queens College

11de: Marlow B

12de: Gill-Kollege

Gill-Kollege se seuns het die gesogte geestrofee ontvang. Vier spelers het die meeste stemme ontvang vir speler van die toernooi, naamlik Yanga Dinga van Marlow, Gideon Smith van Marlow, John Coetzee van Hugenote en Jana Malan van Hugenote. Nadat die spanne weer moes stem, was twee spelers weer gelykop en Die Tjaart Vorster-toekenning is deur John Coetzee en Jana Malan gedeel.

Marlow bedank die skole asook Visrivier en Cradock-tennisklub vir hul tennisbane. Carin van Rensburg, Lizelle Marais en Stefan Vorster het as toernooiskeidsregters opgetree en hul goed van hul taak gekwyt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article