PIETERMARITZBURG – In die uitspraak van ʼn moordsaak wat die Hooggeregshof in Pietermaritzburg met afsku vervul het, is Siphamandla Gumede (31) op 20 Maart tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir ’n reeks moorde wat deur regter Robin Mossop as die werk van ’n “koelbloedige en meedoënlose kontrakmoordenaar” beskryf is.
Regter Mossop het tydens die vonnisoplegging sy skok oor Gumede, wat reeds agt vorige veroordelings het waaronder moord, se koelbloedige gedrag uitgespreek.
Die jongste twee moordaanklagte en die aanklag van gewone aanranding het op 16 Desember 2018 gebeur toe Edwin Zungu en Simo Luthuli vermoor is en Siphamandla Ngema aangerand is. Die derde aanklag van moord was op 9 Februarie 2024 toe die beskuldigde vir Bongani Mhlongo by die Hoërskool Mafunda naby Eshowe vermoor het.
LEES OOK: Moordenaar op Siemens kry lang vonnis in hof in Bloemfontein
Gumede is op 11 Augustus 2025 vir sy vorige agt veroordelings gevonnis. Dit sluit in vyf aanklagte van moord, waarvoor hy op elke aanklag tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is. Op een aanklag van poging tot moord het hy ‘n vonnis van tien jaar gevangenisstraf ontvang, en vir twee aanklagte van roof is hy twee vonnisse van 15 jaar elk opgelê.
Die saaknommers van die bostaande misdade dui aan dis waarskynlik in 2023 gepleeg. Die agt misdade het chronologies ná die eerste drie aanklagte in die jongste saak plaasgevind wat in 2018 gebeur het, maar vóór die moord op Mhlongo in Februarie 2024.
‘Kontrakmoordenaar wat mense vir geld om die lewe bring’
Die getuienis teen Gumede skets ‘n prentjie van ‘n berekende en meedoënlose reeks moorde wat oor etlike jare gestrek het.
Gumede is volgens die hof ‘n kontrakmoordenaar wat mense vir geld om die lewe bring.
Die moorde op Zungu en Luthuli het plaasgevind nadat ‘n groep mans ‘n 21ste verjaarsdagpartytjie verlaat het en by Luthuli se huis gaan drink het. Volgens ‘n ooggetuie het Gumede eers vir Ngema geklap omdat hy nie dadelik sigarette wou gaan koop nie. Nadat Ngema weg is, het Gumede ‘n rewolwer uitgehaal. Hy het ‘n patroon uit sy skoen gehaal en Luthuli gedwing om dit self in die wapen te laai. Toe Luthuli huiwer, het Gumede hom met ‘n stok teen die kop geslaan. Nadat die patroon gelaai is, het Gumede vir Luthuli sonder enige rede in die kop geskiet.
Hoewel daar geen direkte getuie vir Zungu se moord was nie, het die hof bevind die enigste redelike afleiding is dat Gumede hom ook geskiet het. Hy was die enigste een met ‘n vuurwapen en ‘n tweede skoot is vinnig na die eerste gehoor.
Mhlongo, ‘n sekuriteitswag, is by die Hoërskool Mafunda doodgeskiet. Op die betrokke dag het ‘n wit Toyota Etios die skoolterrein binnegery. Mhlongo het na die voertuig gestap. Gumede, wat die voertuig bestuur het, het uitgeklim en verskeie skote geskiet terwyl Mhlongo op die grond gelê het.
‘n Ooggetuie het die moord gesien en Gumede tydens ‘n uitkenningsparade positief uitgeken. Sy het getuig die gewapende man was die bestuurder van die motor.
Inligting van die voertuig se opsporingstelsel het onteenseglik bewys die Toyota Etios was om 12:04 op die dag van die moord by die skool. Toetse op Gumede se hande kort ná sy inhegtenisneming was positief vir kruitneerslag, wat bewys hy het onlangs ‘n vuurwapen afgevuur. Agt leë doppies en twee koeëlpunte is op die toneel gevind. Toetse het gewys dit is uit dieselfde 9mm-vuurwapen afgevuur.
Ontken hy het moorde gepleeg
Gumede het ontken dat hy die moorde gepleeg het. In die 2018-saak het hy beweer ‘n “vreemdeling” het die kamer binnegekom en geskiet, maar die regter het dit as “vergesog en onsinnig” verwerp.
Hy is op 17 Maart skuldig bevind. Sy gedrag in die hof is as “ongeërg” beskryf. Die regter was geskok oor sy gebrek aan berou of emosie, selfs toe slagoffer-impakverslae gelees is, insluitend dié van die familie van Mhlongo, ‘n pa van 11 kinders wat Gumede by die skool doodgeskiet het.
Terwyl getuies getuig het oor die verwoesting van sy dade, het Gumede net “verveeld” in die beskuldigdebank gesit.
Die hof het bevind dat hy ‘n “ongelooflike gevaarlike man” is wat sy lewe as ‘n kontrakmoordenaar vermors het.
Ter strafversagting is getuienis aangevoer dat Gumede se ma nog leef.
Volgens die regter moet Gumede se ma ontredderd wees dat die kind wat sy grootgemaak het, in ‘n koue gemene moordenaar ontaard het.
Haar teleurstelling en die skande wat jy oor die familie gebring het, moet op jou gewete rus.
Met agt moorde agter sy naam, vyf vorige veroordelings en drie nuwe skuldigbevindings, het die regter bevind daar is geen twyfel dat Gumede moord as ’n beroep beoefen nie.
Gumede se weiering om skuld te erken of enige berou te toon, maak dit onmoontlik om enige versagtende faktore te vind.
Sy leuens in die hof en sy pogings om getuies te dreig, wat gelei het dat ʼn getuie in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas moes word, is tekenend van sy berekende en manipulerende geaardheid.
LEES OOK: Multiple life sentences for murdering police officers
Gumede, ongeag dat hy vir ’n maand lank in die hof verskyn het, het die minimum inligting oor homself verskaf. Die regter kon hom nooit peil nie.
In sy uitspraak het regter Mossop bevind die samelewing is nie veilig met Gumede in sy midde nie.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ooit weer ’n vuurwapen te besit.


