Inwoners van ’n plaas buite Klapmuts is Sondagoggend vroeg, omstreeks 02:30, in hul huis langs die R101, of te wel die Ou Paarlpad, oorval in ’n gewapende rooftog toe vier tot vyf gewapende verdagtes toegang tot hul woning verkry het.
Die plaas is geleë in die rigting van Kaapstad, naby die kruising van die R304 en Ou Paarlpad.
Volgens ‘n ingeligte bron het die verdagtes glo die sitkamer se sekuriteitshek met ’n koevoet oopgebreek om die huis binne te dring.
Die inwoners is beveel om na die sitkamer te gaan, terwyl die verdagtes selfone, kontant, juweliersware en ‘n skootrekenaar in die huis bymekaargemaak het.
“Dié voorval dien as herinnering dat inwoners van die (Klapmuts) omgewing waaksaam moet bly. Veiligheidsmaatreëls moet ingestel wees en verdagte aktiwiteite behoort onmiddellik by die polisie aangemeld te word. Inwoners word ook aangemoedig om na mekaar se veiligheid om te sien,” het die bron gesê.
Hierdie huisroof kom amper ‘n maand ná ‘n aanval op ‘n bessieplaas langs die Proteapad, ook buite Klapmuts.
In dié plaasaanval en rooftog het ‘n egpaar omstreeks 02:00 wakkergeskrik nadat hul slaapkamervensters stukkend geslaan is en drie verdagtes toegang tot hul huurhuis verkry het.
Die verdagtes was onder meer gewapen met ‘n geweer, waarmee skote afgevuur is; dit was egter volgens die Klapmuts-polisie leë koeëldoppies.
Die egpaar het hulself in hul badkamer toegesluit en kon hulp ontbied. Van die gesteelde artikels sluit in elektroniese toestelle en beursies.
Die polisie ondersoek blykbaar die moontlikheid dat vier oortreders by die aanval en inbraak betrokke was, maar dit kon nog nie bevestig word nie.
Die Klapmuts-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof in verband met hierdie plaasaanval. Dit is tans onbekend of enigiemand al in hegtenis geneem is.
Die polisie se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang is.





