Tyler Newman van Jamestown het sy tuisdorp met trots gevul toe hy as relatiewe nuweling die eindstryd van die toonaangewende 2026 Red Bull Shay’ iMoto kompetisie bereik het. Die 21-jarige spinner, wat bekend staan as “King Tyler”, het tweede uit 16 van die land se beste spinners gekwalifiseer voordat hy sy plek in die eindrondte verdien het.
Vir Tyler het alles begin met sy pa se passie en ‘n seuntjie se drome. “My belangstelling in spinning het begin toe ek nog baie jonk was. My pa het my daaraan blootgestel, en van daardie oomblik af het dit iets in my wakker gemaak,” vertel hy.
Maar spinning was vir Tyler veel meer as net ‘n stokperdjie – dit het ‘n reddingsboei geword. “Spinning het my ook op die regte pad gehou – dit het my weggehou van dinge soos dwelms en alkohol. Vir my het dit ‘n positiewe ‘addiction’ geword, iets waarvoor ek alles gee en waarin ek myself kan uitleef. Dis meer as net ‘n sport vir my, dis deel van wie ek is.”
LEES OOK: Matie sprinter Puseletso Mabote breaks record
In die klein, hegte gemeenskap van Jamestown was nie almal aanvanklik bewus van spinning se gewildheid nie. “Aan die begin het nie baie mense regtig geweet wat spinning is of hoe groot die sport is nie,” sê Tyler. “Toe hulle hoor dat ‘King Tyler’ by Red Bull Shay’ iMoto gaan deelneem, was daar baie opgewondenheid.”

Vandag staan sy gemeenskap trots agter hom. “My gemeenskap staan vandag sterk agter my, en hulle is ongelooflik trots. Om Jamestown op so ‘n groot platform te verteenwoordig, beteken vir my baie. Dis ‘n groot eer om te wys dat iemand van ‘n klein dorpie ook groot drome kan nastreef en bereik.”
Die pad na die eindrondte
Tyler se tweede plek in die kwalifiserende ronde uit 16 deelnemers was ‘n emosionele oomblik. “Ek het daar ingegaan met die fokus om net my beste te gee, so om so hoog te eindig het baie beteken,” vertel hy. “Dit het net vir my gewys dat alles waarvoor ek gewerk het, uiteindelik begin vrugte afwerp.”
Die halfeindstryd het ‘n dramatiese wending geneem toe sy teenstander Austin Kruger se motor vlam gevat het. “As ‘n deelnemers is jy altyd in ‘fight mode’, maar in daardie sekonde verander jou fokus dadelik. My eerste reaksie was nie oor die battle nie, maar oor veiligheid,” onthou Tyler.
Tyler se BMW E30 met ‘n 2JZ-enjin is die hart van sy sukses. “My BMW E30 is vir my baie meer as net ‘n kar – dit is deel van my identiteit in spinning. Wat hom nog meer spesiaal maak, is dat hy ‘n 2JZ enjin het. Daardie enjin het my naam regtig in die game laat groei, want dit is baie reliable en sterk.”
Die vennootskap met sy stuntman Kabelo ‘KB’ Maleka, wat die Top Stuntman-toekenning gewen het, is ook van kritieke belang. “Om hom as my stuntman te hê is ‘n groot verantwoordelikheid, want hy plaas sy lewe letterlik in my hande wanneer ons die stunts doen.”

Drome vir die toekoms
Tyler se visie strek ver buite Jamestown se grense. “Ek wil spinning regtig oral in Suid-Afrika sien groei, nie net in die townships nie. Baie mense verstaan dit nog nie heeltemal nie, maar vir ons is dit ‘n sport met baie skill, fokus en harde werk agter dit.”

Sy boodskap vir ander jongmense in klein gemeenskappe is kragtig: “Moenie dink jy is te klein of jou plek is te klein vir groot drome nie. Jy begin net waar jy is. Selfs al kyk niemand nou nie, hou aan. Want eendag gaan dieselfde mense vra ‘hoe het jy dit gedoen?’”
Met sy oog op internasionale uitbreiding wil Tyler spinning as ‘n erkende sport vestig: “Die volgende droom is om spinning nog groter te maak. Nie net hier nie, maar wêreldwyd. Ek wil hê mense moet dit regtig begin sien as ‘n sport en nie net iets wat ‘lekker is om te kyk’ nie.”
Tyler woon deesdae in Johannesburg, maar sê hy sal nooit vergeet waar hy vandaan kom nie. Die gemeenskap van Jamestown en hul ondersteuning sal altyd na aan sy hart lê.
Red Bull Shay’ iMoto 2026 is op 18 April by Suncoast Casino in Durban gehou, waar Tyler tweede geëindig het in die eindstryd teen die verdedigende kampioen Jean ‘Panjaro’ Kruger.





