Terwyl Suid-Afrika van 29 Mei tot 5 Junie Kinderbeskermingsweek vier onder die tema ‘Saamwerk om geweld teen kinders te beëindig’, waarsku Solidariteit Helpende Hand dat kinderbeskerming nie eers begin wanneer ‘n maatskaplike werker ingeroep word of wanneer ‘n hofsaak geopen word nie.
‘Die werklikheid is dat Suid-Afrika met ‘n ernstige kinderbeskermingskrisis sit,’ sê Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand.
‘Wanneer ons oor kinderbeskerming praat, moet ons verder kyk as die hofsaal of die maatskaplike werker se kantoor. Die werklike werk begin lank voordat ‘n krisis daar uitkom. Dit begin in huise, skole, kerke en gemeenskappe waar volwassenes bereid is om raak te sien wanneer ‘n kind swaarkry.’
Volgens UNICEF, wat SAPD se kwartaalmisdaadstatistieke aanhaal, is 285 kinders tussen Oktober en Desember 2023 vermoor. Daar is 2 707 kinders wat poging tot moord, aanranding of ernstige liggaamlike leed oorleef het. UNICEF waarsku dat dié syfers slegs aangemelde gevalle verteenwoordig en dat die werklike omvang van geweld teen kinders waarskynlik veel groter is. Stats SA dui aan dat kinders 43,1% van Suid-Afrika se arm bevolking uitmaak.

285 kinders binne 3-maande vermoor
‘Agter elke statistiek is daar ‘n kind met ‘n naam, ‘n storie en ‘n toekoms,’ sê Oosthuizen. ‘Wanneer ons van geweld, armoede of trauma praat, praat ons van kinders wat elke dag probeer funksioneer terwyl hulle onseker, bang of honger is.’
Sy sê trauma by kinders manifesteer nie altyd op ooglopende maniere nie.
‘Die kind wat stil raak in die klas, die tiener wat aggressief optree of die kleuter wat honger by die skool aankom, vertel dikwels ‘n verhaal wat verder strek as wat ons met die eerste oogopslag sien. Die vraag wat baie van hierdie kinders eintlik vra, is eenvoudig: “Is ek veilig?”‘
LEES OOK: Hoopdraers in ‘wêreld vol pyn’ vereer op Internasionale Maatskaplikewerkersdag
Oosthuizen sê die grootste beskerming wat ‘n kind kan hê, is dikwels ‘n veilige en betrokke volwassene.
‘Die grootste beskerming wat ‘n kind kan hê, is iemand wat luister, tyd maak en vir daardie kind wys dat hy of sy waarde het. Kinderbeskerming kan nie net die verantwoordelikheid van die staat wees nie. Gemeenskappe moet saam verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders.’
Helpende Hand se programme fokus op die veiligheid, ontwikkeling en emosionele welstand van kinders. Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek bied landwyd kleuterskole, naskoolsentrums, huiswerkondersteuning, gebalanseerde maaltye, vervoer en vakansieprogramme. Dit sluit ook toegang tot terapeutiese ondersteuning deur Ons Sentrum in vir kinders uit verskillende ekonomiese agtergronde.
Terapeutiese ondersteuning aan kinders
Deur sy Ons Sentrum-programme bied Helpende Hand professionele terapeutiese ondersteuning aan kinders uit getraumatiseerde omstandighede. Dit sluit spelgebaseerde assesserings, emosionele ondersteuning en traumaverwerking in vir kinders wat andersins nie toegang tot hierdie dienste sou hê nie.
‘Kinderbeskerming gaan nie net daaroor om kinders uit gevaar te red nie,’ sê Oosthuizen. ‘Dit gaan ook daaroor om ruimtes te skep waar hulle kan groei, leer en genees. Kinders wat emosionele ondersteuning ontvang, voldoende voeding kry en toegang het tot gehalte-vroeëontwikkeling, het ‘n beter kans om akademies, emosioneel en sosiaal te floreer.’
”n Samelewing wat sy kinders beskerm, beskerm uiteindelik sy eie toekoms. Sterk gemeenskappe word gebou wanneer gewone mense verantwoordelikheid neem vir die volgende geslag.’






You must be logged in to post a comment.