Kind (3) doodgeskok na hy in straat aan lewendige elektriese kabel raak

Azosule Thanga en sy ma, Mandisa

Kind (3) doodgeskok na hy in straat aan lewendige elektriese kabel raak


WORCESTER – Sowat ‘n maand gelede het sy en haar driejarige seuntjie – haar enigste kind – vol hoop uit Motherwell in die Oos-Kaap na die Wes-Kaap verhuis vir ‘n moontlike werksgeleentheid sodat sy vir hom ‘n beter lewe kon gee.

Hierdie droom van ‘n beter lewe vir die 30-jarige Mandisa Tshanga en haar seuntjie, Azosule, het Dinsdag (25 Augustus) in ‘n nagmerrie ontaard toe hy buite hul informele woonstruktuur in die Emagwaleni informele nedersetting in Zwelethemba, Worcester, doodgeskok het.

‘n Hartseer Mandisa vertel aan Nova News dat Azosule kort voor die voorval omstreeks 18:00 met maatjies verder af in die grondpad wat oortrek is met poele water, gespeel het. Sy vertel dat Azosule geskok het toe hy aan ‘n lewendige elektriese kabel wat in die water gelê geraak het.

Volgens haar het ‘n verbyganger gesien Azosule is besig om te skok. Sy sê hy het die kabel onmiddelllik uit Asozule se hand weggevat. Volgens haar het een van haar vriende Azosule oherken toe die onbekende man navraag oor die kind begin doen het.

Volgens Mandisa het sy en ‘n vriendin na die toneel afgesit en Azozule later in ‘n kombers toegedraai. Sy sê hulle kon daarin slaag om ‘n minibus-taxi tot by die Zwelethemba-polisiestasie te haal.

Mandisa sê op pad na die hospitaal het sy aanhoudend Azosule se naam uitgeroep en hom gesmeek om wakker te word. Volgens haar was haar seun oe in daardie stadium agter toe gerol en sy mond het oopgehang.

Mandisa sê die polisie het onmiddellik die nooddienste ontbied. Volgens haar het hulle (nooddienspersoneel) Azosule by die polisiestasie dood verklaar.

Sy sê sy was histeries toe sy die doodstyding ontvang.

Volgens Mandisa het die elektriese kabel wat bokant die grondpad gespan is losgekom toe ‘n verbygaande vragmotor dit per abuis afgeruk het.

Mandisa sê sy was van voorneme om Azosule by ‘n kleuterskool in te skryf sodra sy ‘n werk kry. Volgens haar is sy nog steeds werkloos.

Sy sê sy huil die heeltyd en sukkel om te slaap.

Mandisa sê sy gaan haar kind in die Oos-Kaap ter ruste lê en nie na die Wes-Kaap terugkeer nie.

Die ma sê sy het tans net geld vir ‘n doodskis, maar nie genoeg vir vervoer terug na die Oos-Kaap en ander reëlings nie. Sy vra enigeen wat haar dalk behulpsaam kan wees om haar te bel by 073 117 1043.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article