Danika Roets, ‘n matrikulant aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, het op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se senior kampioenskapsbyeenkoms in Stellenbosch as junior ‘n sewende plek tussen die senior vroue in hamergooi behaal.
Dié byeenkoms het van 16 tot 18 April in die Coetzenburg-stadion van die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind en word as ‘n verhoog beskou waar Suid-Afrika se beste atlete meeding.
Danika se deelname het gevolg op haar onlangse insluiting in Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) se senior span. Dit was vir haar ‘n persoonlike mylpaal en boonop ‘n bron van trots vir haar familie, vriende en gemeenskap.

“Ons is verby trots,” sê haar ma, Natassia Roets, en Diamantveld skryf op sy Facebook-blad dat dit ‘n ongelooflike prestasie op nasionale vlak is.
Danika, wat in graad 8 aan hamergooi begin deelneem het, het op verlede week se senior kampioenskapsbyeenkoms in Stellenbosch in koue en nat weer die hamer meer as 44 meter ver laat trek. Haar beste afstand met ‘n 4 kilogram-hamer is egter 47,46 meter.
Met ‘n 3 kilogram-hamer, wat sy tot onlangs gebruik het, was haar beste afstand 50,32 meter.
Aan die einde van April neem sy aan die Suid-Afrikaanse skolekampioenskapsbyeenkoms in die Pilditch-stadion, Pretoria, deel.
Verskyn gereeld op die podium
In Maart was Danika deel van ‘n span van 18 atlete wat AGW by die ASA junior-kampioenskapsbyeenkoms in Germiston verteenwoordig het. Hier was sy vierde in die o.20-hamergooi-nommer.
Voor dit het sy reeds talle podiumplekke op verskeie byeenkomste behaal. Vroeg in 2023 het Danika op ASA se jeug- en junior kampioenskapsbyeenkoms in Pietermaritzburg goud in hamergooi verwerf en toe ‘n nasionale kampioen geword.
In November 2023 is Danika as AGW se atleet van die jaar aangewys vir haar uitstekende prestasie in ‘n baan-en-veld-nommer, en ook as die o.16-vrouewenner van ‘n baan-en-veld-nommer. Sy het ook AGW-kleure ontvang.
Sedertdien is sy jaarliks as AGW se baan-en-veld-atleet van die jaar aangewys.
Ná matriek beoog sy om verpleegkunde te studeer, maar intussen fokus sy op hamergooi en haar matriekjaar.
LEES OOK: AGW tips hat to medal winners





