SOMERSET-WES – Twee maande ná ‘n verwoestende Kersdag-brand het desperate brandslagoffers van Sir Lowry’s Pass vanoggend (Woensdag 18 Februarie) bande aan die brand gesteek om die Stad Kaapstad te dwing om hulle te help.
“Hoekom kan julle nie die mense help nie? Het julle nie harte nie?” vra Valrie Mentoor, een van die brandslagoffers, gefrustreerd. “Heer, hulle soek nie ‘n dubbelverdiepinghuis nie, hulle vra net vir ‘n klein plekkietjie.”
Hulle het omstreeks 05:00 op die hoek van Sir Lowry’s Pass-pad en Mandelalaan vergader waar hulle die verkeer ontwrig het.

Die inwoners is steeds haweloos ná die brand wat op Donderdag 25 Desember by Mataungstraat 799 plaasgevind het.
Sonica Lategan, ‘n woordvoerder vir die Stad se ramprisikobestuur, het destyds bevestig vyf strukture is vernietig en 30 mense haweloos gelaat. (“Kersdag-brand: 5 wonings verwoes, 30 mense dakloos”, DistrikPos & Helderberg Gazette, 7 Januarie).

Furzel Bitterbosch, nog ‘n brandslagoffer, beweer ‘n vrou het die brand gestig.
“Die meisiekind aan die ander kant sing ‘Let it burn’ en sy soek olie. Toe ons uitkyk, toe brand die plek alreeds,” het die 52-jarige vertel.
Bitterbosch beweer ná die brand is die inwoners deur die Stad belowe hulle sal boumateriaal ontvang om hul strukture te herbou.
Maar twee maande later het hulle steeds niks ontvang nie, en as gevolg hiervan het die inwoners besluit om ‘n betoging te hou omdat hulle voel die Stad het hulle gefaal.
“Ons is gesinne met skoolgaande kinders en hulle luister nie na ons pleidooie nie,” sê hy.
Rayn Mentoor sê hy is desperaat vir die materiaal omdat sy gesin van vier van rusbank tot rusbank moet beweeg as gevolg van die brand waarin hy alles verloor het.

Petrolene “Sister Lee” Alberts, ‘n gemeenskapsleier in Sir Lowry’s Pass, beweer sy en die inwoners vra al vir die Stad vir bystand vir die slagoffers sedert die dag van die brand, en hulle is voortdurend op die fone met owerhede.
“Ná gister het hulle besluit genoeg is genoeg,” sê Alberts.
Die betoging is egter deur owerhede verhinder en die pad is teen 08:00 skoongemaak.
Teen druktyd kon DistrikPos & Helderberg Gazette nog geen reaksie van die Stad kry nie.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.






You must be logged in to post a comment.