Boland teen Valke
Thurlow Marsh, kaptein van die Sanlam Boland Kavaliers hier op ‘n goeie lopie teen die Valke op Bolandstadion. Foto: Ernest Kilowan

Kavaliers verpletter Valke voor tuisskare op Boland-stadion

Boland teen Valke
Thurlow Marsh, kaptein van die Sanlam Boland Kavaliers hier op ‘n goeie lopie teen die Valke op Bolandstadion. Foto: Ernest Kilowan

WELLINGTON – Dit was ’n rugbyvertoning van pure oorheersing toe die Sanlam Boland Kavaliers Saterdagmiddag die Valke in ‘n SA Beker-wedstryd met ’n verwoestende 73–24 op Boland Stadion uit die pad gevee het.

Van die eerste fluitjie af het Boland hul intensies duidelik gemaak. Skaars twee minute was gespeel toe Erik Lambrecht oor in die hoek duik om die telling aan die rol te sit. Hoewel die Valke met ’n strafdoel reageer het, was dit net ’n kortstondige teenflikkering teen ’n span wat op alle fronte geblink het. Lambrecht het kort daarna weer toegeslaan ná skitterende spanwerk, met Juan Mostert wat koelkop van die skoppaal af was.

Die druk het opgebou en Jade Stichling het oor die doellyn gebars, voordat Domenic Smith die bonuspuntdrie afgerond het – alles verdoel deur ’n foutlose Mostert. Die Valke het sporadies teruggekap met ’n verdoelde drie, maar Boland het eenvoudig nog ’n rat opgeskuif.

Dayan van der Westhuizen het sy naam by die driedrukkers gevoeg, en ná nóg ’n Valke-antwoord het Sauliegh Arendse ’n verwoestende rolmaal-beweging afgerond om die tuisspan met ’n oorheersende 40–17 voorsprong kleedkamer toe te stuur.

Joshua Eras het vroeg in die tweede helfte oorgeduik, en toe die plaasvervangers hul opwagting maak, het die tempo geensins afgeneem nie. Xavier Mitchell het onder die pale gaan druk en later weer sy tweede drie bygevoeg, terwyl Thurlon Williams die skopwerk oorgeneem het.

Die punte het bly instroom toe Micheal Benadie ook oor is, voordat kaptein Thurlow Marsh die finale spyker in die kis geslaan het met ’n laat drie. ’n Troosdrie ná die sirene deur die Valke was bloot kosmeties op ’n telbord wat reeds die volle verhaal vertel het – totale Boland-dominansie.

Ná die wedstryd het Hawies Fourie, hoofafrigter van die Kavaliers, gesê dat hul doelwit tot dusver bereik is en dat hy baie tevrede is met die span se vertoning. Hy het egter gewaarsku dat die SWD Arende Saterdag 28 Maart in George ’n nuwe en moeilike uitdaging vir sy span gaan wees.

Puntemakers – Sanlam Boland Kavaliers: (73)
Drieë: Erik Lambrecht (2), Jade Stichling, Domenic Smith, Sauliegh Arendse, Joshua Eras, Xavier Mitchell (2), Micheal Benadie, Thurlow Marsh
Doelskoppe: Juan Mostert (6), Thurlon Williams (2)

Valke: (24 )

Drieë: Zeilinga Strydom (2), Kelvin Kanenungo; Doelskoppe: Sergio Stalmeester (3; Strafdoele: Stalmeester

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article