Kamp het ten doel om jeugsorgverlaters met nodige lewensvaardighede toe te rus

Jongmense van regoor die Vrystaat wat Engo se sorgverlaterskamp tydens die afgelope skoolvakansie bygewoon het, word hier toegerus om hul toekoms met selfvertroue en onafhanklikheid aan te pak. Foto:Verskaf
Jongmense van regoor die Vrystaat wat Engo se sorgverlaterskamp tydens die afgelope skoolvakansie bygewoon het, word hier toegerus om hul toekoms met selfvertroue en onafhanklikheid aan te pak. Foto:Verskaf

Bloemfontein – ’n Groep van 38 jongmense uit verskeie jeugsorgsentrums regoor die Vrystaat het gedurende die  Maart/April-skoolvakansie aan ’n lewensveranderende sorgverlaterskamp deelgeneem wat deur Engo aangebied is.  Die kamp is spesifiek vir jongmense ontwerp wat die jeugsorgstelsel binnekort gaan verlaat, met die doel om hulle met praktiese lewensvaardighede, selfvertroue en die nodige ondersteuning toe te rus sodat hulle hul toekoms suksesvol en onafhanklik kan bou.

Gedurende die program het deelnemers opleiding in verskeie kernaspekte van onafhanklike lewe ontvang. Basiese begroting en finansiële bestuur is onder meer op ’n praktiese wyse deur middel van die sogenaamde “Care Leavers Currency”-aktiwiteit aangebied.

Daar is verder op gesonde verhoudings, effektiewe kommunikasie, werksetiek en voorbereiding vir die werksomgewing gefokus. ’n Hoogtepunt van die kamp was die werksplekplasings waartydens die jongmense by 23 verskillende organisasies en ondernemings ingeskakel is.

Hier het hulle eerstehandse ervaring in uiteenlopende velde soos maatskaplike werk, verpleging, rekeningkunde, administrasie, regsdienste, die weermag, kleinhandel en die gasvryheidsbedryf opgedoen. Deur hierdie blootstelling is hul praktiese vaardighede nie net versterk nie, maar is hul begrip van moontlike loopbaanrigtings ook verbreed. ’n Sterk simboliese tema van die kamp was dié van die arend wat as metafoor vir groei, moed en onafhanklikheid dien.

Deelnemers is aan sewe karaktereienskappe van die arend bekendgestel en is aangemoedig om hierdie eienskappe toe te pas terwyl hulle voorberei om die “nes” te verlaat en hul eie pad te stap. Die kamp het ook ’n emosionele en inspirerende element ingesluit tydens die “Stories of Hope”-sessie waartydens voormalige sorgverlaters hul persoonlike reise en suksesverhale gedeel het.

Deur hierdie getuienisse is hoop en motivering by die deelnemers gewek, met twee deelnemers wat selfs permanente werkgeleenthede ontvang het by organisasies waar hulle tydens vorige kampe geplaas is, sê Elmarie Els-Hamman, maatskaplike werker by Engo Jeugsorgsentrum.

Volgens die organiseerders speel die kamp ’n belangrike rol in die voorbereiding van sorgverlaters vir volwassenheid en onafhanklikheid en word ’n veilige ruimte gebied waar hulle kan groei, leer en geïnspireer word. Die volgende sorgverlaterskamp word vir September 2026 beplan, en persone en organisasies wat graag betrokke wil raak of tot die projek wil bydra, word aangemoedig om met Engo in verbinding te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article