Noordkaap Bulletin

KAMEELDORING | Sjokolade-terapie smelt sorge met elke happie

close up photo of stacked chocolates bars beside raspberries
Ter illustrasie: Foto: Lisa / Pexels

“Strength is the capacity to break a Hershey bar into four pieces with your bare hands − and then eat just one of the pieces.” − Judith Viorst, Love and Guilt and the Meaning of Life, Etc.

Sjokolade is salig. Dit is nou maar wors. So seker as wat die son opkom en die maan ondergaan.

En jy kan dit kort ná ontbyt eet. Soos ek vandag, op ‘n Maandag-oggend dat die hond aanhou blaf en die moet-doen-lys lank is.

Die eerste happie van ‘n towerstafie smelt sorge, en sorge verdamp, en ek is meegevoer na ‘n plek van pure vreugde. Al is dit net vir nano-oomblikke.

Die ryke, fluweelagtige tekstuur wat stadig op jou tong smelt, die intense aroma wat jou neusgange vul, en die komplekse geure wat dans tussen bitter en soet.

Ek is nie ‘n vrou vir donkersjokolade nie, maar word verlei deur die romige sagtheid van melksjokolade, of die speelse soetheid van witsjokolade.

Dit toets my ook. Veral daardie sjokolade wat in stafies kom.

Wilskrag is om een af te breek en die res te bêre. Ek dink dit is ‘n onmoontlike taak.

Ek kan dalk twee bêre, maar ek kan nooit net een eet nie.

Wetenskaplikes het bewys dat sjokolade endorfiene vrystel, chemiese stowwe wat ons liggaam se natuurlike gelukshormone is.

Dit verklaar hoekom ‘n stukkie sjokolade nie net soggens nie, maar ook ná ‘n swaar dag, voel soos ‘n warm omhelsing vir die siel.

In ‘n haastige wêreld vol stres herinner dit ons daaraan om die klein vreugdes van die lewe te waardeer en onsself toe te laat om, al is dit net ‘n oomblik lank, volledig oorgelewer te raak aan iets wat suiwere, onbelemmerde oorgawe is.

Sjokolade is nie net kos nie.

Dit grens aan die dringend noodsaaklike.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article