Die Kaapse Forum het vandeesweek ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gedoen om die bewe- rings van skeidsregter-omkopery in die Boland te ondersoek. Dit volg ná ‘n skokkende berig in Rapport die afgelope Sondag.
Die Kaapse Forum sê ook die Boland Rugbyunie (BRU) sal nie self die bewerings kan ondersoek nie, aangesien dit “alombekend” is dat sy voorsitter, Bennie van Rooi, persoonlike verhoudings met sommige klubvoorsitters het.
Rapport het berig dat bronne in die blasersgeledere onthul het dat skeidsregters in die Boland tot R15 000 in die sak kan steek om wedstryde in die guns van plaaslike rugbyspanne te blaas. Daar is ook beweer dat klubs as deel van die wedstrydknoeiery skeidsregters se vervoerkoste dek.
‘n Tugkomitee is aangestel om die kwessie te ondersoek, het Bennie van Rooi, BRU-president, by navraag aan Rapport gesê.
Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, het Maandag na afloop van Rapport se berig gesê die forum sal regshulp bied aan mense wat oor inligting beskik rakende voorvalle waar skeidsregters omgekoop is om ten gunste van ‘n spesifieke span te blaas, asook aan diegene wat bang is hulle word geviktimiseer of geïntimideer as hulle met inligting na vore kom.
Volgens Wyngaard het hulle hierdie versoek Maandagoggend in ‘n brief aan Mark Alexander, president van Saru, gerig.
“Die Kaapse Forum glo nie dat die BRU geskik is om self ondersoek na die bewerings in te stel nie, aangesien die unie ‘n geruime tyd reeds daarvan bewus is. Daar is egter eers gewag totdat ‘n fluitjieblaser ‘n amptelike klagte ingedien het,” sê Wyngaard.
Hy sê verder dat dit alombe- kend in die Boland is dat Bennie van Rooi, president van BRU, persoonlike verhoudings met sommige klubvoorsitters het. Hy beskou die verhoudings as onbehoorlik.
Luidens berigte word Linston Manuels, bestuurder van Boland se skeidsregters, by die bewerings betrek.
“Jy kan nie ‘n beskuldigde wees en self ook die regter nie,” sê Wyngaard oor die BRU se besluit dat sy tugkomitee ‘n ondersoek na die bewerings sal doen. Wyngaard sê voorts dat indien die bewerings waar is, dit op ‘n groter probleem as slegs ‘n “dissiplinêre kwaal” by die BRU dui.
“Die unie se hele bestuurstyl- en kultuur, korporatiewe
bestuurstelsels en etiese waardes mag dalk daardeur in twyfel getrek word.
“Waarom dit die Kaapse Forum bekommer, is omdat rugby dikwels die enigste voertuig is waardeur jongmense van die Boland uit hul ellendige sosiaal- ekonomiese omstandighede gelig kan word.
“Ons sien die resultate in die samestelling van provinsiale spanne tot op die hoogste vlak, maar dit begin by die meer as 200 klubs van die Boland,” sê Wyngaard.
Die Kaapse Forum is die afgelope drie jaar van sy bestaan ten nouste betrokke by gemeenskappe in die Boland om onder meer te help met die sentrale rol wat rugby speel in die bou van selftrots en die opheffing van families.
“Ons het daarom by geleent- heid onder meer die unie met ‘n borgskap vir sy laer ligas ondersteun en was ook as donateur by ‘n paar klubs van die Grootuitdaag-kompetisie betrokke,” sê Wyngaard.




