Die huldeblyk op die Martie du Plessis-skool se Facebookblad.
Die huldeblyk op die Martie du Plessis-skool se Facebookblad.

BLOEMFONTEIN – Huldeblyke stroom in ná die dood van ‘n oudleerling van die Martie du Plessis-skool wat Saterdag 14 Februarie in ‘n ongeluk oorlede is.

Louis Smith (19) is dood toe die motorfiets waarop hy gery het en ‘n motor in ‘n noodlottige ongeluk was op die kruising van Curielaan met Napolionstraat.

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, sê ‘n klag van strafbare manslag word deur die Parkweg-polisiekantoor ondersoek nadat ‘n rooi Nissan-sedan met Smith se Suzuki-motorfiets gebots het. In die ongeluk wat Saterdag omstreeks 09:30 plaasgevind het, het die motorfietsbestuurder ná did botsing beheer verloor en teen ‘n lamppaal gebots. Hy is deur ambulanspersoneel op die toneel dood verklaar.

Een baan in Curielaan was daarna lank gesluit terwyl opruimingswerk gedoen is..

Dit is die hoeveelste ongeluk in Curielaan. Inwoners kla gereeld oor die spoed waarteen motoriste in Curielaan en Vereenigingrylaan ry.

DA wyksraadslid Dirk Kotzé het verlede jaar begin met ‘n versoekskrif waarin hy inwoners se ondersteuning vra dat veiliger padverkeerstoestande in die stad geskep word.

Op die skool se Facebook-blad was talle huldeblyke waaronder Hannah Geyser wat geskryf het: ” ’n Jong man met soveel drome en soveel lewenslus. Sy goeie maniere en vriendelike geaardheid het uitgestaan. My hart gaan uit na sy ouers en geliefdes. Mag julle krag en troos vind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article