Thomalene Phillips by die Show Your Talent-nasionale kompetisie waar sy haar plek vir Amerika verdien het
Thomalene Phillips by die Show Your Talent-nasionale kompetisie waar sy haar plek vir Amerika verdien het.

“As ek my oë toemaak, sien ek myself op ‘n verhoog voor ‘n skare mense. Dan wil ek verby dit kyk, maar ek kan nie.”

Só beskryf 20-jarige Thomalene Phillips van Strand haar droom – ‘n jong vrou wie se stem haar gelei het tot ‘n unieke kans om Suid-Afrika by Talent America in New York te verteenwoordig.

Phillips het onlangs haar goue kaartjie na Amerika verdien toe sy die beoordelaars se asem by Show Your Talent se nasionale kompetisie weggeslaan het. Sy het haar weergawe van Andra Day se “I’ll Rise Up” by Curro Somerset-Wes uitgevoer en twee golden buzzers ontvang.

“Dit was baie opwindend, maar ek moes my emosies beheer want ek moes steeds die liedjie voltooi,” verduidelik Phillips.

Thomalene Phillips by die Show Your Talent-nasionale kompetisie waar sy haar plek vir Amerika verdien het
Thomalene Phillips by die Show Your Talent- nasionale kompetisie, waar sy haar plek om in Amerika op te tree verdien het.

Haar musikale reis het begin as leerder by Dr. G.J. Joubert Primêre Skool en by die plaaslike gemeenskapsentrum, die Green Door, waar sy vir die eerste keer erkenning vir haar stem en sangtalent gekry het.

“Almal het altyd net vir my gesê ‘jy het ‘n dik stem’, en die woorde was nie altyd lekker om te hoor nie,” sê sy. “Maar by die Green Door het ek myself vir die eerste keer gehoor en dis waar ander mense my stem gekomplimenteer het.”

Met verloop van tyd kon sy nie meer die Green Door bywoon nie en op hoërskool het Phillips se fokus verskuif. “Ek het my nie regtig oor sang bekommer nie, want ek het begin jongmens-goed doen,” sê sy.

Haar passie het egter nooit verdwyn nie. In gr. 11 het sy weer die mikrofoon opgetel en ‘n stemafrigter in Somerset-Wes genader. Sy het haar pa gesmeek om vir die lesse te betaal. “Ek het Somerset-Wes toe geloop vir lesse, al het die son gebak en die wind gewaai,” sê Phillips. “Soms was dit moeilik, want jy voel jy kom nêrens nie.”

Cum laude

In haar matriekjaar het sy ‘n cum laude-tokenning by ‘n eisteddfod ontvang en suksesvol ‘n oudisie vir SACOPTA afgelê, maar finansiële terugslae het verhoed dat sy die volgende fase kon bywoon.

Ná matriek het sy begin werk, maar vyf maande gelede het alles onverwags verander en sy moes bedank.

“Ek het nie geweet ek was swanger nie. Dit het net gevoel asof ek gaan doodgaan,” sê sy terwyl sy skalks lag.

Thomalene Phillips met haar seun Ethan wat haar motiveer om haar sangdroom na te jaag
Thomalene met baba Ethan, wat haar aanspoor om haar droom na te jaag.

Terwyl sy vir baba Ethan gewag het, het sy weer haar oë toegemaak en die verhoog gesien. Sy het aanlyn gegaan en van Show Your Talent uitgevind. Dit is ‘n kreatiewe platform waar kunstenaars in ‘n formaat soortgelyk aan America’s Got Talent deelneem.

Toe sy haar pa weer vra om te help, het sy ‘n onverwagte bondgenoot gevind – iemand wat steeds in haar droom geglo het. “Ek het Jennifer Hudson se liedjie ‘I Have Nothing’ gesing en ek het twee golden buzzers gekry,” herroep sy.

Dit het haar na die nasionale verhoog geneem, waar haar keuse van “I’ll Rise Up” haar reis perfek verpersoonlik het – sy het niks gehad behalwe drome nie, en sy moes opstaan om dit na te jaag.

“Voordat Ethan gebore is, het ek gevoel asof ek geen rede gehad het om my droom na te jaag nie. Maar ek glo hy is die rede hoekom ek nou moet aanhou – vir my en vir hom,” sê sy.

Die uitdaging

Noudat Phillips vir Talent America in New York gekwalifiseer het, staan ‘n moeilike keuse voor haar. As sy volgende Julie wil gaan, moet sy Ethan agterlaat.

Sy het egter ondersteuning nodig om haar droom te verwesenlik. Die koste is R75 000 – ‘n asemrowende bedrag vir ‘n werklose enkelouer.

“Talent America gee my die kans om voor agente, kunstenaarbestuurders en rolverdelingregisseurs te sing,” verduidelik Phillips.

Van ‘n skaam kind by die Green Door tot ‘n jong ma wat op die punt staan om voor wêreldbekende agente te sing, is Phillips se reis een van tweede kanse en ‘n pa wat nooit opgehou glo het nie.

Om met Phillips se Amerikaanse droom te help, bel haar by 065 717 3316 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article