KYK | Jong krieketspelers val plat toe skote langsaan sportveld klap

skietvoorval in Worcester
‘n Skermgreep van die video wat wys hoe die jong krieketspelers op die gras platval toe die skote uitbreek.

WORCESTER – Krieketspelers van twee besoekende laerskole moes verlede Maandag (6 Oktober) voor die koeëls vlug toe ’n skietery enkele meters vanwaar hulle besig was om krieket te speel, in Hoogstraat, Worcester, by die Paglande-woonbuurt uitgebreek het.

Die kinders het ten tyde van die skietvoorval aan die Thirsti-krieketfees, wat vanaf 3 tot 7 Oktober – gedurende die skoolvakansie – in Worcester aangebied was, deelgeneem.

’n Ouer wat verkies om anoniem te bly het aan Standard Breederivier Gazette gesê die skietvoorval het plaasgevind terwyl die o.13-krieketspan van ‘n laerskool in Kaapstad se noordelike voorstede met met dié van ‘n laerskool in die Overberg op die sportveld kragte gemeet het.

Een van die spelers was so getraumatiseerd deur die skietvoorval dat hy mediese behandeling moes kry. Die seun, wat ten tyde van die voorval veldwerk gedoen het, was gestasioneer op die grens van die veld – glo ’n paar treë weg vanwaar die skietery plaasgevind het.

“Die seun was so geskok, hy kon nie ’n woord uitkry nie.”

Die seun was glo so getraumatiseerd dat hy vir die res van die toernooi nie kon speel nie.

Nog ’n persoon wat betrokke was by die krieketwedstryd sê van die koeëls het oor die veld verby een van die krieketafrigters getrek.

Hy sê die betrokke afrigter het onmiddellik plat op die gras geval en vir die spelers geskree om dieselfde te doen.

Volgens hom het die afrigter agter ’n vullisdrom geskuil terwyl afrigters van die Overbergse laerskool voor en agter die pawiljoen geskuil het.

Die persoon vertel dat van die koeëls glo in twee opslaanklasse op die skoolterrein vasgeslaan het.

Volgens die persoon het almal – die spelers inkluis – vir sowat 10 minute plat op die gras bly lê.

Die betrokke persoon meen die kinders sal vir berading moet gaan omdat hulle nie oor die voorval praat nie.

Nog ’n ouer wat verkies om anoniem te bly, sê toe die skote begin klap, het almal aanvanklik gedink dis ’n kar wat “backfire”.

“Toe dinge te intens raak, toe word die wedstryd onmiddellik gestop.”

Volgens hom het nog ander mense wat ten tyde van die skietvoorval ook op die veld was, vertel die koeëls het oor hulle en die kinders se koppe gevlieg.

“Dis net genade niemand is beseer nie.”

In ’n video wat deur ’n ouer opgeneem is en intussen die ronde op sosiale media doen, kan gesien word hoe die kinders besig is om krieket te speel.

Net meer as twee minute in die video in, word harde klapgeluide gehoor. Die kinders lyk vir ‘n oomblik verward en maak reg om aan te hou speel. Dan volg loeiende sirenes en nog skote word afgevuur. Dit is op hierdie oomblik wat die jong spelers almal op die gras neerval en plat bly lê.

‘n Gedeelte uit die video wat die skok-oomblik vasvang. Video: verskaf

Luidens ’n skermgreep van die Paglande WhatsApp-groep skryf bekommerde inwoners die volgende: “Weet iemand dalk wat gebeur het op plein? Sien polisie jaag iemand en skietery.[sic]”

Nog ’n inskrywing lui: “Cowboy movie word gedoen.” “Neighbour said it was a car chase after a robbery that happened in town.[sic]”

Standard Breederivier Gazette het ’n medianavraag aan die polisie gerig. Die kommentaar sal bygevoeg word sodra die koerant terugvoering kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article