Aubrey de Lange (38) en sy vrou Juane Greyling de Lange
Aubrey de Lange (38) en sy vrou Juane Greyling de Lange

Jong Bothaville-man laat gemeenskap in rou ná skielike afsterwe


BOTHAVILLE – Die Bothaville-gemeenskap treur oor die skielike afsterwe van Aubrey de Lange (38), ‘n geliefde inwoner wat deur familie, vriende en kollegas onthou sal word as ‘n hardwerkende, nederige en opregte mens met ‘n sagte hart.

Sy afsterwe kom as ‘n groot skok, veral omdat Aubrey en sy vrou, Juane Greyling de Lange, slegs vyf maande gelede hul huweliksreis begin het. Wat ‘n tyd van vreugde en nuwe drome moes wees, het nou plek gemaak vir diepe hartseer.

Aubrey en sy vrou, Juane Greyling de Lange, het slegs vyf maande gelede hul huweliksreis begin. FOTO: Facebook

Aubrey het die afgelope paar jaar by Louw de Wet Hersteldienste gewerk, waar hy bekend was vir sy toewyding, vriendelikheid en bereidwilligheid om altyd ‘n helpende hand uit te steek. Mense wat saam met hom gewerk het, beskryf hom as iemand op wie daar altyd staatgemaak kon word.

Een van die aangrypendste huldeblyke kom van sy pa, wat in ‘n emosionele boodskap afskeid geneem het van sy oudste seun.

“Wat ‘n voorreg was dit om jou pa te kon wees. Dankie vir elke verjaarsdag wat jy uit jou pad gegaan het om eerste te wees om my geluk te wens. Dankie vir elke keer as jy nie geweet het waarheen of wat om te doen nie, dat jy my kom vra het vir raad en hulp.”

Hy skryf verder dat sy seun se plek van nou af leeg sal wees, maar dat Aubrey altyd in sy hart sal voortleef.

“Ek koester die mooi wat daar was en ek verwyt jou nie vir elke keer wat jy fouteer het nie. Weet ek is trots om te kan sê jy was my seun. Weet dat ek jou geweldig gaan mis en dat ek jou altyd sal lief hê.”

Die woorde het diep aanklank gevind by talle mense wat hul medelye op sosiale media uitgespreek het en herinneringe gedeel het aan die vriendelike jongman wat altyd bereid was om ander te help.

Juane, wat by Senwes Onderdele werksaam is, ontvang tans ‘n groot stroom ondersteuning vanuit die gemeenskap. Familie, vriende en inwoners staan saam om haar en die De Lange-familie in hierdie moeilike tyd by te staan.

Aubrey se afsterwe laat nie net ‘n leemte in sy gesin nie, maar ook in die harte van almal wat hom geken het. Sy vriendelikheid, nederigheid en opregte omgee vir ander sal lank onthou word.

Hoewel sy lewe veel te kort was, sal die herinneringe wat hy agterlaat, voortleef in die mense wie se lewens hy aangeraak het.

LEES OOK: Gemeenskap in rou gedompel ná skielike afsterwe van geliefde onderwyser

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article