Jan Alleman sal eersdaags sy stem kan voeg by besluitneming oor die moontlike instelling van ‘n elektroniese stemproses in toekomstige verkiesings.
Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) in die Wes-Kaap, onder leiding van die provinsiale verkiesingshoof, Michael Hendrickse, sal ‘n reeks openbare gesprekke oor elektroniese stemming (e-Stemming) in al die streke van die provinsie aanbied.
Die veldtog begin Vrydag 12 September in die Kaapstad-Metro (Khayelitsha) en eindig op 30 September in die Sentraal-Karoo (Oudtshoorn).
Hierdie gesprekke vorm deel van die OVK se nasionale program oor ses maande, wat openbare werksessies en die betrokkenheid van belanghebbendes ten opsigte van e-Stemming insluit. Die doel is om gemeenskappe die geleentheid te gee om insette te lewer oor die toekoms van Suid-Afrika se verkiesingsprosesse.
Die doel van die werksessies is om openbare menings, insigte en voorstelle in te samel. Hierdie insette sal gebruik word om die OVK se huidige Beleidsbesprekingsdokument oor elektroniese stem-stelsels te hersien en te verfyn. ‘n Finale beleidsdokument sal ná interne hersienings en bespreking aan beleidsmakers, insluitend die Parlement, voorgelê word vir debat en ‘n besluit om elektroniese stemming in Suid-Afrika toe te laat, of nie.
Wes-Kaapse gespreksessies:
- Kaapstad-Metro: 12 September – Khayelitsha
- Kaapstad-Metro: 15 September – Somerset-Wes
- Weskus: 16 September – Malmesbury-stadsaal
- Kaapse Wynlande: 22 September – Worcester-stadsaal
- Overberg: 26 September – Hermanus-ouditorium
- Tuinroete: 29 September – George-gemeenskapsaal (Banketsaal)
- Sentraal-Karoo: 30 September – Oudtshoorn-banketsaal
Die verwagting is dat die volgende belangegroepe die gespreksessies sal bywoon: Gemeenskapslede; verteenwoordigers van politieke partye, jeugbewegings, nie-regeringsorganisasies en organisasies sonder winsbejag; die gestremde gemeenskap; vakbonde; Hoofstuk 9-instellings (‘n groep organisasies wat ingevolge Hoofstuk 9 van die Suid-Afrikaanse Grondwet gestig is om demokrasie te beskerm); opvoedkundige instellings; sowerl as geloofsorganisasies in die onderskeie streke.
Die publiek word aangemoedig om aktief aan hierdie belangrike proses deel te neem, hetsy deur die bywoning van die werksessies of deur voorleggings in te dien via:
* ’n Toegewyde OVK e-Stemming-webblad – Engaging with South Africa’s E-Voting Future
* E-pos: evoting@elections.org.za
Die sluitingsdatum vir voorleggings is 30 September 2025.


