ST. HELENABAAI – Terwyl die bekende Weskusdorp Paternoster al geruime tyd ‘n duur stryd teen ‘n omstrede beoogde multimiljoenrandse windplaas voer, het ‘n aangrensende buurdorp sy eie stryd op hande om beoogde mynbedrywighede op sy voorstoep te kelder.
En volgens bekommerde inwoners en huiseienaars in St. Helenabaai gaan hulle gewis wéér ‘n nuwe aansoek vir prospekteerregte vlak buite die dorp met hand en tand beveg.

Dit volg nadat ‘n aansoek vir prospekteerregte in Julie vanjaar by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie ingedien is. Die aansoeker is Zucolox (Edms.) Bpk. van Gauteng.
Dié aansoeker wil in ‘n uitgestrekte gebied van sowat 3 000 hektaar op gedeeltes van twee plase, Duykereiland en Schuitjiesklip, buite St Helenabaai vir ‘n dosyn minerale prospekteer, waaronder fosfaat, mangaan, rutiel, kopererts en selfs diamante. Gevestigde woonbuurte soos onder meer Stompneusbaai, Lampiesbaai, die Shelley Point-gholflandgoed en Brittaniabaai, sal direk in die spervuur van sulke mynbedrywighede wees.
‘n Aksiegroep, Action St Helena Bay, is intussen op die been gebring om die beoogde prospektering te bestry, terwyl ‘n snelgroeiende aanlyn petisieveldtog begin is om steun vir die veldtog te bewerkstellig.
LEES OOK: Hof stop TotalEnergies se Suid-Afrikaanse olie-eksplorasie
Volgens Stoan Bartel, wat die aksiegroep saam met nóg ‘n inwoner, Dewald Steyn, gestig het, hou moontlike mynbedrywighede in die gebied ernstige nadele en risiko’s vir die Weskus se ekonomie en die omgewing in. Bartel is ook die voorsitter van die St. Helenabaai-sakekamer.
“Die aankondiging dat aansoek gedoen word vir prospekteerregte, wek kommer by inwoners, sakelui en bewaringsgroepe. Die aksiegroep en petisieveldtog poog om weerstand téén moontlike mynbedrywighede te versterk en vrywilligers en ondersteuners ‘n verenigde stem saam te snoer,” sê Bartel.
Die aksiegroep geniet reeds die steun van verskeie ander belangegroepe, waaronder die Paternoster-bewaringsgebied, die plaaslike gemeenskapswag, Paternoster Peoples’ Partnership, verskeie gemeenskapsorganisasies en ‘n groeiende groep bekommerde inwoners.
Beswaarde inwoners en omgewingsaktiviste meen enige mynaktiwiteite in die gebied sal ‘n bedreiging vir voëls, diere én mense inhou. Veldgebiede tussen St. Helenabaai en Paternoster huisves bedreigde voëlspesies en unieke plantsoorte. Vrese bestaan ook dat toerisme en eiendomswaardes deur mynbedrywighede in die gebied nadelig geraak kan word en dat dit tot water- en lugbesoedeling kan lei.

Volgens Bartel beoog die aksiegroep om toeganklike en duidelike inligting oor die prospekteeraansoek te verskaf en is hulle verbind tot deursigtigheid en samewerking om die unieke erfenis en omgewing van St. Helenabaai en aangrensende gemeenskappe te beskerm en te bewaar.
Twee ander pogings om prospekteerregte in die betrokke gebied te kry, was tot dusver onsuksesvol. In 2019 is ‘n impakstudie van ‘n onbekende myngroep van Johannesburg afgekeur terwyl nóg ‘n aansoek vir prospektering in 2022 ná heftige teenkanting deur sowat 70 grond- en huiseienaars teruggetrek is.
Die huidige aansoeker, Zucolox, se direkteur, Lisle Mboweni, wie se e-posadres as kontak op die prospekteeraansoek van die Departement Minerale Hulpbronne en Energie verskyn, het nie op ‘n navraag van Weslander reageer nie.
LEES OOK: Regstryd duur voort teen derde windturbine-aanleg in Saldanhabaai
Volgens die St.Helenabaai-aksiegroep het Mboweni wél op ‘n skrywe van een van die groep se lede gereageer. Volgens dié betrokke terugvoer (per e-pos), is Zucolox gewillig om met verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskap in gesprek te tree om na hulle besware te luister.
Volgens ‘n kenner van mynregte, wat verkies om naamloos te bly, is dit feitlik onmoontlik om die suksesvolle toekenning van mynregte te stop indien prospekteerregte positiewe resultate oplewer.
Kommentare rakende die prospekteeraansoek kan nog tot 17 November 2025 aan die Departement Minerale Hulpbronne en Energie se streekkantoor in Kaapstad gestuur word.

Die aksiegroep se webwerf kan by actionsthelenabay.co.za besoek word.St Helenabaai. – Terwyl die bekende Weskusdorp Paternoster al geruime tyd ‘n duur stryd teen ‘n omstrede beoogde multimiljoenrandse windplaas voer, het ‘n aangrensende buurdorp sy eie stryd op hande om beoogde mynbedrywighede op sy voorstoep te kelder.
En volgens bekommerde inwoners en huiseienaars in St. Helenabaai gaan hulle gewis wéér ‘n nuwe aansoek vir prospekteerregte vlak buite die dorp met hand en tand beveg.
Dit volg nadat ‘n aansoek vir prospekteerregte in Julie vanjaar by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie ingedien is. Die aansoeker is Zucolox (Edms.) Bpk. van Gauteng. Dié aansoeker wil in ‘n uitgestrekte gebied van sowat 3 000 hektaar op gedeeltes van twee plase, Duykereiland en Schuitjiesklip, buite St Helenabaai vir ‘n dosyn minerale prospekteer, waaronder fosfaat, mangaan, rutiel, kopererts en selfs diamante.
Gevestigde woonbuurte soos onder meer Stompneusbaai, Lampiesbaai, die Shelley Point-gholflandgoed en Brittaniabaai, sal direk in die spervuur van sulke mynbedrywighede wees.
‘n Aksiegroep, Action St Helena Bay, is intussen op die been gebring om die beoogde prospektering te bestry, terwyl ‘n snelgroeiende aanlyn petisieveldtog begin is om steun vir die veldtog te bewerkstellig.
Volgens Stoan Bartel, wat die aksiegroep saam met nóg ‘n inwoner, Dewald Steyn, gestig het, hou moontlike mynbedrywighede in die gebied ernstige nadele en risiko’s vir die Weskus se ekonomie en die omgewing in. Bartel is ook die voorsitter van die St. Helenabaai-sakekamer.
“Die aankondiging dat aansoek gedoen word vir prospekteerregte, wek kommer by inwoners, sakelui en bewaringsgroepe. Die aksiegroep en petisieveldtog poog om weerstand téén moontlike mynbedrywighede te versterk en vrywilligers en ondersteuners ‘n verenigde stem saam te snoer,” sê Bartel.
Die aksiegroep geniet reeds die steun van verskeie ander belangegroepe, waaronder die Paternoster-bewaringsgebied, die plaaslike gemeenskapswag, Paternoster Peoples’ Partnership, verskeie gemeenskapsorganisasies en ‘n groeiende groep bekommerde inwoners.
Beswaarde inwoners en omgewingsaktiviste meen enige mynaktiwiteite in die gebied sal ‘n bedreiging vir voëls, diere én mense inhou. Veldgebiede tussen St. Helenabaai en Paternoster huisves bedreigde voëlspesies en unieke plantsoorte. Vrese bestaan ook dat toerisme en eiendomswaardes deur mynbedrywighede in die gebied nadelig geraak kan word en dat dit tot water- en lugbesoedeling kan lei.
Volgens Bartel beoog die aksiegroep om toeganklike en duidelike inligting oor die prospekteeraansoek te verskaf en is hulle verbind tot deursigtigheid en samewerking om die unieke erfenis en omgewing van St. Helenabaai en aangrensende gemeenskappe te beskerm en te bewaar.
Twee ander pogings om prospekteerregte in die betrokke gebied te kry, was tot dusver onsuksesvol. In 2019 is ‘n impakstudie van ‘n onbekende myngroep van Johannesburg afgekeur terwyl nóg ‘n aansoek vir prospektering in 2022 ná heftige teenkanting deur sowat 70 grond- en huiseienaars teruggetrek is.
Die huidige aansoeker, Zucolox, se direkteur, Lisle Mboweni, wie se e-posadres as kontak op die prospekteeraansoek van die Departement Minerale Hulpbronne en Energie verskyn, het nie op ‘n navraag van Weslander reageer nie.

Volgens die St.Helenabaai-aksiegroep het Mboweni wél op ‘n skrywe van een van die groep se lede gereageer. Volgens dié betrokke terugvoer (per e-pos), is Zucolox gewillig om met verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskap in gesprek te tree om na hulle besware te luister.
Volgens ‘n kenner van mynregte, wat verkies om naamloos te bly, is dit feitlik onmoontlik om die suksesvolle toekenning van mynregte te stop indien prospekteerregte positiewe resultate oplewer.
Kommentare rakende die prospekteeraansoek kan nog tot 17 November 2025 aan die Departement Minerale Hulpbronne en Energie se streekkantoor in Kaapstad gestuur word.
Besoek die aksiegroep se webwerf.

You must be logged in to post a comment.