Misdaad | Crime
Die Paarl-Oos polisie ondersoek die inbraak by die VGK Hugenote.

Inbraak, diefstal by VGK Hugenote kantoor


PAARL – ‘n Ondersoek is gelas na ‘n onlangse inbraak by VGK Hugenote se kantoor in Paarl-Oos.

‘n Ingeligte bron na aan die gemeente sê die inbraak het na bewering gebeur deur die nag verlede Woensdag (16 September).

Sers. Wesley Twigg, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het die insident by navraag bevestig.

Twigg sê egter die Paarl-Oos polisie het ‘n saak van huisbraak en diefstal vir ondersoek geregistreer ná ‘n inbraak by die kerk in Klein Drakensteinweg tussen 14 en 16 September.

“Volgens [polisie]verslae het die klaer die gebou verlaat en toe sy terugkeer, het sy ontdek dat die agterdeur van die kantoor met geweld oopgebreek is. ‘n Rekenaar en ‘n lamineermasjien is as vermis aangemeld. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie.”

LEES OOK: Klag teen VGK Hugenote-leraar ondersoek

Hierdie gemeente is sedert verlede jaar in die kollig as gevolg van hul voormalige gemeenteleier, ds Michael Wildeman, wat na bewering die gemeente finansieel bedrieg het.

Paarl Post het in Augustus berig dat ‘n amptelike klag van bedrog teen Wildeman geopen is by die Paarl-Oos polisie vroeër vanjaar.

Wildeman is op 20 Mei amptelik uit sy pos ontslaan as gemeenteleier van die VGK Hugenote. Die ontslag kom maande nadat Wildeman onder die soeklig gekom het weens kerkgeld wat verdwyn het. 

‘n Anonieme gemeentelid het voorheen aan Paarl Post onthul dat geld uit die offergawes vir 2024 nie opgespoor kon word nie. Die kwessie het na vore gekom nadat ’n diensverskaffer glo nie betaal is nie, wat die kerkraad genoop het om toegang tot finansiële state te eis. Dit is kort hierna dat daar glo bevind is dat gelde spoorloos verdwyn het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article