Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Ter illustrasie Credit: Helena Barnard

Die vaste tred van tyd is die afgelope naweek weer beklemtoon met die sonomkeerpunt wat jaar na jaar sonder uitsondering plaasvind.

Dit is die tyd in die suidelike halfrond wanneer die kortste dag van die jaar beleef word, en die langste nag.

Ná die kortste dag, op ongeveer 21 Junie, begin die son weer elke dag oomblikke vroeër verskyn totdat dit op ongeveer 22 Desember op sy vroegste aan die suidelike kant van die aardbol verskyn.

Só verloop die tyd voorspelbaar; jaar na jaar, eeu na eeu.

Dit is so drasties anders as die onvoorspelbare in die lewe – ongeag die bekende siklus waarvolgens dit verloop.

‘n Mens kan een oomblik nog planne maak vir netnou, of vir jare sorgvuldig aan jou “eendag” beplan.

Binne ‘n oogknip verander ‘n onvoorsienigheid jou planne vir netnou of vir “eendag”.

Hierdie onvoorsiene kan binne jou kring wees, of op die ander kant van die aardbol.

So wonder ‘n mens hoe Amerika se bomwerper-aanval op drie van Iran se kernaanlegte – en die teenaksies wat hieruit gaan voortspruit – ons aan die suiderpunt van Afrika kan beïnvloed.

Die wêreld is groot en Iran meer as 11 000 km van Suid-Afrika.

Tog is die wêreld klein, en kontinente en lande is onsigbaar aan mekaar verweef.

Binne enkele dae sal ons hoor van iemand wat iemand ken wat in een van die lande woon wat direk betrokke is.

Of ons gaan hoor van iemand wat inderhaas ander planne moes maak omdat die British Airways-lugredery al sy vlugte vanaf Engeland se Heathrow-lughawe na Doha en Dubai kanselleer het weens vrees dat die situasie in die Midde-Ooste kan versleg.

In ‘n artikel in The Economic Times word kommer uitgespreek dat ‘n Derde Wêreldoorlog kan uitbreek te midde van toenemende spanning tussen Israel en Iran.

Hierin word onder meer Antarktika, Ysland en Suid-Afrika as veilige toevlugsoorde beskou sou so iets gebeur.

‘n Vreemde gedagte om te bepeins in die lig van Suid-Afrika se politieke skommelinge en hoë misdaadsyfer.

Lees ‘n mens aanhalings van toeka, moet ons in onsekerheid berus. Sokrates (470–399 v.C.) het geskryf: “To be uncertain is to be uncomfortable, but to be certain is to be ridiculous.”

En Benjamin Franklin het glo in 1789 gesê: “In this world, nothing is certain except death and taxes.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025