Police vehicle
‘n Vrou van Paarl-Oos is deur honde doodgebyt.

Honde verskeur jong ma van Paarl-Oos


PAARL – ‘n Jong ma van Paarl-Oos is Sondagoggend (26 Julie) dood kort nadat sy deur honde aangeval en verskeur is in Kareelaan in die New Orleans-woongebied.

Volgens ‘n ingeligte bron was die oorledene en haar kêrel op pad winkel toe, toe die honde die vrou aangeval het.

“Dit is nie die eerste keer wat daardie honde by daardie perseel in Kareelaan iemand aanval nie. Die munisipaliteit se wetstoepassing sal iets daadwerklik moet doen voor nog ‘n persoon seerkry.”

Volgens die ingeligte bron woon die oorledene se kêrel naby Kareelaan toe hulle twee na ‘n nabygeleë winkel gestap het toe die tragiese insident afgespeel het.

“Toe hulle verby die erf stap waar die honde woon was daar een hond in die jaart wat te kere gegaan het. Die man sê toe vir haar dat hierdie honde is ‘n probleem. Toe hulle twee terug kom [vanaf die winkel], roep iemand vir hom en hy staan en gesels met die persoon en die vrou stap toe nou aan. En die volgende oomblik toe is dit net ‘n geskree en ‘n gegil. Toe het die vyf honde, wat almal op een erf woon, die vrou aangepak. Sy het nie eens ‘n draad klere aangehad soos die honde met haar aangegaan het nie.”

Die bron verduidelik verder die eienaar van die honde het toe ‘n kombers oor die heining aangegee. Die oorledene se kêrel het toe huis toe gehardloop en sy bakkie gaan haal en met haar hospitaal toe gejaag.

“Met haar aankoms by die hospitaal was dit so te sê te laat. Sy het gesterf. Wat kommerwekkend is van die hele situasie is dat dit nie die eerste insident is wat daai honde van daardie erf mense aanval [nie] en daar moet daadwerklik iets gebeur.”

Wat verneem word is die honde verskillende rasse wat Boerboel en Alsatian (German Shepherd) in sluit.

Navrae is gerig aan die polisie en terugvoering sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article