ygliyi
Die mede-eienaar van Plaisir de Merle in Simondium het onlangs in die hof verskyn. Foto: Jana Scheepers
Paarl Post

Hofstryd oor beweerde onregmatige uitsettings op Plaisir de Merle

ygliyi
Die mede-eienaar van Plaisir de Merle in Simondium het onlangs in die hof verskyn. Foto: Jana Scheepers

Die mede-eienaar van die bekende Simondium-wynplaas Plaisir de Merle, Rose Jordaan, is tans in ‘n hofstryd gewikkel. Dit word in die Paarl-landdroshof aangehoor nadat plaasbewoners haar van onregmatige uitsetting beskuldig het.

Jordaan het op 19 Mei haar eerste hofverskyning gemaak nadat ‘n dagvaarding op haar beteken is, volgens ‘n betroubare bron. Teen druktyd was die uitsteldatum vir die volgende hofverskyning nie bekend nie.

Die klagtes spruit uit twee afsonderlike sake wat deur Raymond Koopman (55) en Bradley Williams (38) aanhangig gemaak is. Koopman het reeds verlede jaar ‘n klagte van beweerde onregmatige uitsetting gemaak, terwyl Williams glo vanjaar ‘n soortgelyke saak geopen het.

Sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder verbonde aan die Wes-Kaapse-polisie, het Koopman se saak bevestig.

Volgens dié twee mans het Jordaan op 15 April vanjaar glo opdrag gegee dat die besittings van sowat 14 huishoudings uit hul huise op die plaas verwyder word in ‘n poging om hulle uit te sit.

‘n Video wat deur Koopman aan Paarl Post beskikbaar gestel is, wys hoe meubels uit huise gedra word. Die inwoners het daarna die polisie ontbied en kon uiteindelik aanbly.

Koopman en Williams beweer verder dat inwoners ongeveer ‘n week later ‘n prokureursbrief ontvang het, maar dat geen formele hofbevel vir uitsetting aan hulle oorhandig is nie.

LEES OOK: Plaasbewoners betoog buite Paarl-landdroshof teen uitsettings

Albei mans het op Plaisir de Merle grootgeword. Volgens hulle is hulle tans nie in diens van die plaas nie, ondanks bewerings dat werksgeleenthede aan inwoners belowe is toe die Jordaan-familie die plaas in 2020 gekoop het.

Koopman beweer ook dat sekuriteits-personeel glo opdrag ontvang het om hom toegang tot die plaas met sy voertuig te weier indien hy alkohol gebruik het. Volgens hom word hy aan ‘n alkohol-asemtoets onderwerp en moet hy sy voertuig by die ingang los en verder stap.

Ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (ESTA) (Wet 62 van 1997) mag plaasbewoners slegs uitgesit word indien ‘n hofbevel toegestaan is en streng regsprosesse gevolg is.

Die grondeienaar moet onder meer kan bewys dat die persoon se verblyfreg regmatig beëindig is, dat voldoende skriftelike kennis gegee is en dat die hof die uitsetting as regverdig en billik beskou.

ijpoio
Plaisir de Merle se mede-eienaar is gewikkel in ‘n regsgeding. Foto: Jana Scheepers

Faktore soos alternatiewe verblyf, die ouderdom en gesondheid van bewoners, asook hoe lank hulle op die plaas woon, moet ook deur die hof oorweeg word.

Die mans voer aan dat dié prosedures nog nie gevolg is nie.

Plaisir de Merle het voorheen aan die Distell-groep behoort voordat dit in 2020 deur die Jordaan-familie oorgeneem is. Die familie sluit onder meer Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van First National Bank en huidige hoof van die beleggingsmaatskappy Montegray Capital, asook sy vrou, Rose Jordaan, in.

Paarl Post het navrae aan Plaisir de Merle gerig, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article