‘n Suid-Afrikaanse hof het Woensdag omgewingsmagtiging geweier vir die Franse energie-reus TotalEnergies se beplande diepsee-boorwerk naby Kaapstad.
Die Hooggeregshof het bevind dat die Omgewingsministerie se 2023-goedkeuring vir die verkennings-operasies in die ongeveer 10 000 m² area naby die Kaap “hersien en tersyde gestel” moet word.
Omgewingsdrukgroepe het die regstappe teen die projek geloods en geargumenteer dat dit seelewe erg sal benadeel.
Die blok word gesamentlik besit deur Suid-Afrika se staatsoliemaatskappy PetroSA, TotalEnergies en die Britse oliereus Shell, met die Franse firma as operateur.
In haar uitspraak om die omgewingspermit om te keer, het regter Nobahle Mangcu-Lockwood gesê TotalEnergies kan weer aansoek doen vir magtiging ná openbare konsultasie.
Green Connection, een van die groepe wat die regstappe ingestel het, het die uitspraak as ‘n groot oorwinning vir kusgemeeenskappe en kleinskaalse vissers beskryf.
“Oliestorting- en uitblaas-noodplanne is van die publiek weerhou tot ná goedkeuring, wat gemeenskappe ‘n kans ontneem het om kommentaar te lewer,” het die groep se regsadviseur, Shahil Singh, in ‘n verklaring gesê.
Belangstelling in olie- en gas-eksplorasie langs Suid-Afrika se kus het die afgelope jare toegeneem, gedryf deur groot ontdekkings oor die maritieme grens in Namibië en breër energie-aktiwiteit in suidelike Afrika, insluitend Mosambiek.
Die Natural Justice-groep van omgewingsregters het gesê Woensdag se uitspraak bevestig dat alle maatskappye behoorlike prosesse moet volg voordat hulle die groenlig kry vir olie-eksplorasie langs Suid-Afrika se kus.
“Ons sal aanhou om na ons howe te wend om nie net die uitbuiters te stop wat onder die dekmantel van groei en ontwikkeling optree nie, maar om te verseker dat die impakte van olie- en gas-eksplorasie en -produksie behoorlik ondersoek word en dat ons mense en hulpbronne nie uitgebuit word nie,” het die groep verklaar.





