Die soektog na die 74-jarige inwoner van LongAcres, Hermie van Zyl, wat ‘n week gelede in die Tsitsikamma-woud naby Stormsrivier vermis geraak het, is afgelas. Sy lewelose liggaam is laat Woensdagmiddag ontdek.

Volgens die plakkaat waarop Van Zyl as vermis aangedui word, is hy laas op Dinsdag 21 Oktober gesien.
Hy was saam met ‘n groep op pad na die Sleepkloof-hut en is van die groep saam met wie hy was, geskei, en hulle kon hom later nie weer opspoor nie.
Kouga Express, Weslander se susterskoerant in die Oos-Kaap, berig dat die Stormsrivier-polisie verlede week ‘n soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur het nadat Van Zyl (74) op 22 Oktober as vermis aangemeld is.
Volgens polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Majola Nkohli, het die soekgroep bestaan uit die polisie se soek-en-reddingsdienste en berede-afdeling, die veldwagters van SanParke en die MTO Tsitsikamma-staproete.
“Ons het ‘n omvattende soekpoging gemobiliseer wat verskeie gespesialiseerde eenhede betrek,” het Nkohli aan Kouga Express gesê.
Weslander wag op terugvoer van Van Zyl se familie.
Enigiemand wat meer weet word gevra om konst. K.M. Jansen by 071 663 4722 of die Stormsrivier-polisie by 067 598 2004 te skakel.







You must be logged in to post a comment.