‘n Inwoner van Fisherhaven voel hy is onregverdig behandel omdat die Overstrand-munisipaliteit glo ‘n deernissubsidie aan hom weier.
Nadat dit aan die lig gekom het dat Barry Riddle, ‘n pensioentrekker van Fisherhaven, in ‘n woonwa op sy eie erf woon en slegs op sy Sassa-toelae staatmaak – glo nie dieselfde voordele as inwoners wat in informele strukture soos onder meer plakkershutte kry nie – het die VF Plus die OM versoek om die toepassing van die munisipale eiendomsbelastingkorting en ondersteuningskriteria vir behoeftiges dringend te hersien.
“Dit blyk dat sommige inwoners onregverdig uitgesluit word op grond van die soort woonstruktuur waarin hulle woon,” het hulle in ‘n persverklaring gesê. Volgens die VF Plus skep die munisipaliteit se huidige vertolking ‘n ongelykheid tussen verskillende weergawes kwesbare inwoners. “Inwoners wat in informele strukture, soos onder meer plakkershutte, woon, mag ondersteuning ontvang, terwyl ‘n pensioentrekker wat ‘n erf besit en ‘n woonwa op daardie eiendom bewoon, uitgesluit kan word hoewel hy dieselfde, indien nie meer, finansiële uitdagings rakende munisipale uitgawes ervaar.”
Hulle wil graag weet of die beoordeling van die korting gegrond is op huishoudelike inkomste en finansiële behoeftes of hoofsaaklik op die soort struktuur wat bewoon word. “Indien die huidige beleid dit wettig maak dat ‘n onderskeid getref word tussen iemand wat in ‘n plakkershut woon en iemand wat in ‘n woonwa op sy eie eiendom woon, dring die VF Plus daarop aan dat dit onmiddellik ondersoek word sodat alle eienaars gelyke behandeling ontvang,” het die VF Plus gesê.
Die VF Plus versoek dat Riddle se aansoek volledig hersien moet word. “Verder dring ons aan op skriftelike redes vir die weiering of uitsluiting van die korting. Iemand se armoedestatus en vermoë om te betaal behoort behoorlik in ag geneem te word. Kwesbare pensioentrekkers kan nie só benadeel word nie.”
Overstrand se huidige ondersteuningsvereistes vir behoeftiges verwys na kwalifiserende huishoudings op grond van inkomste en ander voorwaardes, insluitend bewoning van die eiendom as primêre woning.
Volgens die munisipale bestuurder, dr. Dean O’Neill, voldoen die aansoek nie aan die kwalifiserende vereistes vir ‘n deernissubsidie nie. “Hoewel die aansoeker in ‘n woonwa op die eiendom woon, bly die eiendom ‘n vakante erf en kwalifiseer dit nie as ‘n ontwikkelde residensiële eiendom wat vir ‘n deernissubsidie ingevolge die munisipaliteit se beleid kwalifiseer nie,” het hy gesê.
Volgens hom is die deernissubsidie bedoel om verligting te bied ten opsigte van kwalifiserende residensiële dienstegelde en word dit nie uitgebrei na beskikbaarheidsheffings wat op vakante grond gehef word nie.
“Daarbenewens vorm die plasing en bewoning van ‘n karavaan op die eiendom nie ‘n wettige woning wat ingevolge die toepaslike beplannings- en boubeheervereistes goedgekeur is nie. Die munisipaliteit kan nie verplig word om ‘n subsidie toe te ken op grond van ‘n onwettige grondgebruikreëling wat buite die omvang en bedoeling van die deernisbeleid val nie,” sê O’Neill.


