Knoflokskraal wat op 1 800 ha geleë is het van 2020 gegroei tot sowat 4 000 strukture met tussen 15 000 en 20 000 inwoners.

Na aanleiding van wat die nasionale minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, verlede Dinsdag gesê het oor maatreëls wat daargestel gaan word om reg en orde by die Knoflokskraal langs die N2 tussen Botrivier en Grabouw te her­stel, het ‘n groep inwoners vanoggend langs die N2 by die ingang van Knoflokskraal byeengekom vir ‘n vreedsame optog.

Wat die inwoners glo grief, is die feit dat Macpherson op die ­mediakonferensie gesê het bewerings van dwelm-verwante aktiwiteite, intimidasie van nooddienste, misdaadsindikate en onwettige grondverkope vir so min as R1 500 doen die ronde.

“Dit is alles bog en ons is hier om te bly…,” het die inwoners van hulle laat hoor.

“Die beweringe wat hulle maak, is alles ‘n bewys dat hulle nie eens die moeite doen om te kom kyk wat hier aangaan voordat hulle sulke goed kwytraak nie,” het een van die inwoners gesê. “Ons wil in vrede hier woon, ons grond, wat histories aan ons behoort, bewerk en ons kinders hier grootmaak sodat hulle ook ‘n erfenis kan kry.”

Nog ‘n inwoner vertel hy het in 2020 daar aangekom “toe hier nog niks was nie”. Volgens hom is Knoflokskraal nie begin vir behuising nie, maar om te boer. “Ons hoofdoel is om selfonderhoudend te wees. Ons wil die grond bewerk en daarvan lewe … Ons is geregtig op water, want dit is wat die grondwet vereis, maar verder kyk ons in niemand se oë vir aalmoese nie,” het hy gesê.

Die departement van openbare werke en infrastruktuur, wat die wettige eienaar van die grond is, het ‘n driepuntplan daargestel om die situasie die hoof te bied.

Die onwettige diensleweringsoptogte, waar Knofloks­kraal-inwoners die N2 versper, lei tot baie probleme, en inper­kingsmaatreëls gaan ingestel word om verdere grondgrype op die 1 800 hektaar grond te keer. ‘n Hofbe­vel is reeds van krag om verdere grondbesetting te keer.

Verder wil die departement ook die maatskaplike welstand van die inwoners­ ondersoek. Die ondersoek sal inligting insamel oor die inwoners, hul omstandighede en die uitleg van die ­nedersetting. Hulle wil ook direk met die inwoners kommunikeer – “sonder inmenging” – om meer uit te vind oor of hulle uitgebuit word of nie.

Die Facebook-advertensie wat die inwoners van Knoflokskraal op hul Facebookblad geplaas het.

Na aanleiding van dié inligting het verskeie politieke leiers ook hul mening gelug. Volgens Weldon Wells, die speaker van die Theewaterskloof-munisipaliteit en ‘n GOOD-raadslid, kan die regering ‘n plan beraam om die probleme te oorkom.

“As die regering R41,1 miljoen vir private veiligheidsmaatskappye betaal om te keer dat Knoflokskraal groei, kan hulle planne maak om met die gemeenskap hande te vat en die Nuwebrug herstel,” het hy gesê.

“As die speaker van hierdie munisipaliteit hoor ek daagliks die noodkrete van ons inwoners. Die minister se onthulling dat R41,1 miljoen aan private veiligheid bestee is ‘met niks om daarvoor te wys nie’ is meer as net ‘n departementele mislukking – dit is ‘n belediging vir elke inwoner in Nuweberg, Libanon en Dennehof, wat meegedeel is daar is “geen begroting” vir basiese dienste nie.

John Michels, die vorige onderburgemeester en deesdae parlementslid vir die National Coloured Congress (NCC), sê hulle veroordeel ten sterkste die skandelike en onmenslike optrede van die departement waarin “kwesbare gemeenskappe onder­werp word aan apartheidstyl-taktiek van intimidasie, gedwonge verskuiwings en staatsbewaking onder die valse voorwendsel van ‘reg en orde’.

Volgens die NCC staan hulle agter die inwoners van Knoflokskraal en hulle doen ‘n beroep vir die onmiddellike sta­king van verskuiwing, ‘n volle ondersoek na kontrakte, die dringende voorsiening van basiese munisipale dienste en erkenning en beskerming van grondbesitregte vir inheemse mense.

Intussen wil die inwoners net in vrede lewe en hande met die regering neem sodat oplossings gevind kan word.

Volgens padgebruikers wat die N2 gebruik, was daar geen probleme nie en is die pad nie gesluit nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article