Terwyl Boland-rugbyunie-amptenare, die ondersteuners en spelers van Safcol in Grabouw opgedaag het vir hul laaste wedstryd in die Overberg-grootuitdaag-reeks, het Botrivier-rugbyklub geskitter in hul afwesigheid. Die wedstryd sou in Grabouw plaasgevind het.
Volgens die gemeenskapsleier en Safcol-ondersteuner Isabel Bailey is die optrede van Botrivier-rugbyklub onaanvaarbaar. “Ons as rugbyondersteuners is baie teleurgesteld in die feit dat Botrivier so min van ons dink. Aangesien net Safcol, Botrivier, Rangers en Genadendal speel, het daar ondersteuners van ander dorpe af kaartjies gekoop om die wedstryd tussen Botla en Saffies te kyk, en nou het hulle net hul geld gemors. Dit is Botrivier se plig om te kom speel het, nie net teenoor sy ondersteuners of ander spelers nie, maar mense van heinde en ver kyk na die wedstryde, al is dit op sosiale media en nou het hulle ons teleurgestel,” het Bailey vertel. “Ons wil graag ‘n boodskap uitstuur na Boland-rugbyunie om by hulle te pleit om teenoor Botrivier op te tree, sodat geen ander klub dit eers moet oorweeg om so iets in die toekoms te doen nie.”
Boland-rugbyunie, Bennie van Rooi, het gemeld dat die BRU kennis neem van die voorgaande skrywes, asook die openbare en mediaverklaring wat deur Botrivier-rugbyklub uitgereik. “Die unie se standpunt is dat geen formele aansoek om uitstel van die betrokke wedstryd aan die BRU voorgelê is wat tot gevolg gehad het dat die wedstryd formeel uitgestel is nie. Daar bestaan derhalwe geen besluit van die unie ingevolge waarvan die wedstryd afgestel of uitgestel is nie. Die wedstryd gaan gevolglik soos oorspronklik geskeduleer voort.”
Safcol is ook veral teleurgesteld in die besluit van Botrivier aangesien hulle die dag wou gebruik het om ‘n jong talentvolle rugbyspeler van Grabouw Jowin Plaatjies te ondersteun om na Portugal te gaan toer. “Saterdag tydens ons wedstryd teen Botrivier sal daar ‘n boks wees vir ondersteuners om danasies te gee om sy droom waar te maak,” het hulle op Facebook gedeel.
Ingevolge die toepaslike kompetisiereëls is die wedstryd 28-0 ten gunste van Safcol RVK beklink en het Safcol ook vyf ligapunte gekry.
Intussen het Botrivier se afrigters en bestuur Saterdag Rosco Williams in Stellenbosch gaan besoek. Rosco is ‘n belowende jong rugbyspeler van Botrivier wat aan ‘n internasionale toernooi gaan deelneem. Die plasing op Facebook het ook gemengde reaksies uitgelok. Een Facebookgebruiker het geskryf: “Julle loop daar rond terwyl julle ‘n game moet speel. Dit is swak van julle.”





