Almal wag in spanning om te kyk of wedstryd tussen Botla Fire en Saffies voortgaan

Almal wag in spanning om te kyk of die wedstryd tussen Safcol en Botrivier voortgaan.

Almal wag in spanning om te kyk of wedstryd tussen Botla Fire en Saffies voortgaan


Ondersteuners wat vanmiddag die wedstryde in Grabouw tussen Saffies en Botla Fire wil gaan kyk is in die duister.

Dit kom nadat die voorsitter van Botrivier-rugbyklub gister ‘n persverklaring uitgereik het rakende die wedstryde. In die persverklaring het Wilfred Herman gemeld dat Botrivier-rugbyklub die rugbygemeenskap, ondersteuners en ander belanghebbendes formeel in kennis stel van die bestuur se eenparige besluit om te onttrek aan die geskeduleerde ligawedstryd teen Safcol RVK.

Die besluit volg volgens hom ná ’n uitgerekte proses van kommunikasie en korrespondensie tussen Botrivier-rugbyklub en die Boland-rugbyunie rakende twee uitstaande aangeleenthede wat die klub as belangrik en dringend beskou.

“Botrivier-rugbyklub het sedert die aanvanklike kommunikasie herhaaldelik aangedring dat die aangeleenthede spoedig en in ooreenstemming met die toepaslike bepalings van die unie se grondwet hanteer en afgehandel word. Ondanks die klub se pogings om die kwessies op ’n behoorlike wyse op te los, is daar volgens die klub steeds nie voldoende duidelikheid of ’n finale beslissing oor die aangeleenthede nie,” lui die persverklaring.

Die klub beklemtoon dat hierdie besluit nie ligtelik geneem is nie. “Botrivier-rugbyklub is bewus van sy verantwoordelikheid teenoor sy spelers, afrigters, ondersteuners, die opponerende klub en die breër rugbygemeenskap. Ons bly verbind tot deelname aan die kompetisie en tot die bevordering van rugby binne die Boland.”

Intussen het Safcol gemeld dat hulle sal voortgaan met die wedstryde vandag: “Safcol wil dit duidelik stel dat Safcol vandag met sy normale wedstryddag-aktiwiteite sal voortgaan soos beplan. Die klub het voorberei vir die wedstryd en sal sy verantwoordelikhede teenoor sy spelers, ondersteuners, borge, personeel en die rugbygemeenskap nakom.

“Ons neem kennis van Botrivier se verwysing na uitstaande aangeleenthede tussen Botrivier en die Boland-rugbyunie. Safcol is egter nie ‘n party tot daardie dispute nie, en Safcol se standpunt is dat enige dispuut tussen ‘n klub en die unie nie noodwendig ‘n grondslag daarstel om ‘n geskeduleerde ligawedstryd teen ‘n ander klub eensydig te kanselleer nie.

Safcol het tot op hierdie stadium geen formele bevestiging ontvang dat die wedstryd deur die bevoegde strukture van die Boland Rugbyunie gekanselleer of uitgestel is op ‘n wyse wat Safcol se belange aanspreek nie.”

Boland-rugbyunie

Intussen het die president van Boland-rugbyunie, Bennie van Rooi, gemeld dat die BRU kennis neem van die voorgaande skrywes, asook die openbare en mediaverklaring wat deur Botrivier-rugbyklub uitgereik.

“Die unie se standpunt is dat geen formele aansoek om uitstel van die betrokke wedstryd aan die BRU voorgelê is wat tot gevolg gehad het dat die wedstryd formeel uitgestel is nie. Daar bestaan derhalwe geen besluit van die unie ingevolge waarvan die wedstryd afgestel of uitgestel is nie. Die wedstryd gaan gevolglik soos oorspronklik geskeduleer voort.”

Volgens die BRU is Botla Fire van die unie se standpunt en die voortsetting van die wedstryd in kennis gestel. “Indien Botrivier versuim om vir die wedstryd op te daag, moet Safcol RVK nietemin by die wedstryd teenwoordig wees, op die veld aantree en gereed wees om die wedstryd te speel, ten einde aan die toepaslike kompetisie vereistes te voldoen. Indien Botrivier nie opdaag nie, sal die wedstryd deur die aangewese skeidsregter en/of wedstrydbeamptes hanteer word in ooreenstemming met die toepaslike kompetisie reëls.

“In sodanige omstandighede sal die uitslag, ingevolge die toepaslike kompetisie reëls, 28-0 ten gunste van Safcol RVK aangeteken word, met die gepaardgaande vyf ligapunte wat aan Safcol op die punteleer toegeken sal word,” het die persverklaring gelui.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article