Onderwysers knak onder voortslepende bendegeweld by Worcester-skool

Breërivier Sekondêr
Bekommerde ouers het Vrydag (23 Oktober) vergader om die onveilige situasie by Breërivier Senior Sekondêr te bespreek. Foto: Enrico Claassen

Onderwysers knak onder voortslepende bendegeweld by Worcester-skool

Breërivier Sekondêr
Bekommerde ouers het Vrydag (23 Oktober) vergader om die onveilige situasie by Breërivier Senior Sekondêr te bespreek. Foto: Enrico Claassen

“Van die jonger onderwysers het al geknak weens die omstandighede hier by die skool. Hulle kan eenvoudig net nie meer die druk hanteer nie oor hulle daagliks gedreig word.”

So sê ’n moedelose Andre Bergh, ’n opvoeder by Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester, aan Standard Breederivier Gazette in die lig van ‘n voorval Donderdag (22 Oktober) toe ‘n graad 9-leerder berserk geraak het toe hy op onderwysers begin vloek en hulle met die dood gedreig het.  

Chaos het binne minute by die skool uitgebars toe die leerder en ‘n paar bendelede met wie hy glo bande het onderwysers en die skoolhoof met klippe bestook het.

Leerder dreig onderwysers

Volgens Craig Visagie, ook ’n opvoeder, het hy voor eerste pouse ‘n klagte ontvang van ‘n onderwyseres dat ‘n leerder besig is om haar te dreig.   

Hy sê toe hy en Bergh die betrokke leerders nader het hulle uitmekaar gespat en in die rigting van die Villiersdorp-pad gehardloop.

Volgens Visagie was die booswigte in skoolklere geklee.

Volgens hom het een van die leerders op die skoolterrein agtergebly. Hy sê toe hy die seun probeer aanspreek is hy en Bergh die allerlelikste tale toegesnou.

“Hy [die seun] het sy hande opgetel en geskree ‘Hosh! JCY! ‘Julle gaan nou sien. Ek gaan die JCY’s nou haal vir julle’.

Klippe reën op skoolterrein

Visagie sê terwyl hy nog besig was om met ‘n familielid van die kind oor die foon te praat, toe laat weet een van die onderwyseresse hom dat die seun en nog iemand verby haar klas gestap het.

Volgens Visagie was die onderwyseres paniekbevange omdat sy nie geweet het of hulle wapens op hulle het nie.

“Ek bel toe die polisie en sê hulle moet skool toe kom, want die kind het nou teruggekom skool toe met ’n klomp jongens.”

Visagie sê ongewenste elemente het deesdae vryelik toegang tot die skool nadat booswigte die skool se omheining aan die Villersdorp-kant vroeër afgebreek het.

Visagie sê dit was nie lank, toe hoor hy die gille van die ander leerders. Hy sê toe hy gaan ondersoek instel, toe bestook die leerder en sy makkers hom met klippe.

Visagie sê toe hy terugdraai en weghardloop het hulle hom steeds met klippe bestook.

“Ek skree toe vir meneer May hy moet weer die polisie bel. Toe meneer May later uitkom, toe beweeg die seun al hoe nader na hom [May] en gooi hom ook met klippe. Toe die hoof op die toneel verskyn, het hulle hom ook met klippe gegooi.

“Toe is daar chaos. Die onderwysers en leerders het almal gegil. Ons het almal in die voorportaal van die admin-gebou weggekruip.

“Hulle [die booswigte] het al hoe nader aan die admin-gebou beweeg, terwyl die klippe reën. Ons was so bang hulle kom in by die admin-gebou.”

Polisie gryp in, onderwysers uitgebrand

Volgens Visagie was die polisie kort hierna op die toneel. Hy sê die polisie het hulle meegedeel dat hulle die kwaaddoeners reeds in hegtenis geneem het.

“Gister (22 Okober) was so deurmekaar. Ek het nog nooit so iets in my loopbaan as onderwyser ervaar nie. Dis abnormaal.”

Visagie sê Dinsdag (20 Oktober) en op 15 Oktober het mededingende bendes gewapen met vuurwapens op die skoolterrein met mekaar slaags geraak.  

“Hierdie tipe omstandighede by die skool het ‘n impak op onderwysers se moraal. ‘n Onderwyser wie se moraal laag is, kan mos nie sy beste lewer nie en dit gaan wys in sy uitslae.”

Bergh gaan verder: “Ons is uitgebrand. Ons moraal is laag. Ons is hier om onderrig te gee. Die maatskaplike werkers moet hierdie ander goed hanteer, maar nou word van ons verwag om alles te hanteer.

“Ons het nie meer beheer oor die leerders nie, want van hulle het wapens op hulle. Ons het al messe by hulle afgeneem, selfs dagga.

“Pouses rook die leerders sonder skaamte dagga op die skoolterrein.

“Baie van die onderwysers bly afwesig as gevolg van die druk en ons het begrip daarvoor. Psigies is ons nie meer waar ons moet wees nie.

“Ons kan van hierdie skool ‘n model-skool maak, maar dan het ons ondersteuning nodig.”

Visagie gaan verder: “Daar is onderwysers wat nie eens meer uit hul klasse wil kom nie. Daar is die wat ook te bang is om terreindiens te doen.”

Bergh sê daar is leerders wat by Riverview-woonstelle woon wat uit vrees nie meer kan skool toe kom nie.

Volgens hom moes die skool onlangs sowat 25 van die 300 graad 9-leerders van die skool se boeke skrap.

Skool wend hom tot LUR

Volgens Visagie het die skool hulle nou na Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid gewend.

Tydens Standard Breederivier Gazette se besoek Vrydag (23 Oktober) aan die skool het Kurt Nefdt, skakelbeampte vir die LUR vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, Anroux Marais, Visagie gebel en onderneem dat afgevaardigdes van die direktoraat vir sekuriteitsrisikobestuur die skool binnekort sal besoek om ’n risiko-evaluering te doen.

Die bevindinge sal dan aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) voorgelê word.

Kort nadat ouers by die skool vergader het om die onaangename situasie te bespreek, het hulle die Villiersdorp-pad vir verkeer versper uit protes vir die situasie.

Nefdt het op 26 Oktober aan Standard Breederivier Gazette gesê hy kan bevestig Visagie het met hul kantoor in verbinding getree om kommer oor veiligheid by die skool uit te spreek, omdat die beskadigde omheining aanleiding gee tot geen behoorlike toegangsbeheer by die skool.

“Hy [Visagie] het verder gemeld dat hierdie gebrek aan toegangsbeheer tot talle gewelddadige konfrontasies by die skool gelei het.”

Nefdt sê hul kantoor het die saak na die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) verwys vir dringende ingryping met betrekking tot toegangsbeheer by die skool.

Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement se komponent vir Veilige Skole het voorheen die vervanging van die omheining by die skool gefasiliteer.

Volgens haar is die omheining egter weer afgesteel. Sy sê dit het die skool kwesbaar gemaak vir ongemagtigde toegang.

Hammond sê die departement ondersoek tans bykomende maatreëls om die skool te ondersteun, terwyl verseker word dat enige toekomstige sekuriteitsintervensies teen soortgelyke kriminele dade beskerm kan word.

“Berading en psigososiale ondersteuning sal beskikbaar gestel word waar nodig, en die departement sal voortgaan om nou saam te werk met wetstoepassingsagentskappe en ander belanghebbendes om te help om ‘n veilige en bevorderlike omgewing vir onderrig en leer te verseker.

“Uiteindelik is dit ook ‘n gemeenskapspolisiëringskwessie, en alle rolspelers moet betrokke wees. Ons bedank die ondersteuning van die SAPD tot dusver.

“Om te verseker dat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens nie ontwrig word nie, het die WKOD reëlings getref vir Graad 12-leerders om hul eksamens by ‘n alternatiewe lokaal af te lê. Hierdie eksamens het sonder ontwrigting verloop.

“Die WKOD doen ‘n beroep op alle lede van die gemeenskap om te help met die beskerming van skoolinfrastruktuur.

“Ons skole is gemeenskapsbates, en ons doen ‘n beroep op inwoners om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteite, vandalisme of diefstal aan die betrokke owerhede aan te meld.”

Konst. Ndakhe Gwala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem op klagtes van intimidasie en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Volgens Gwala is een van die verdagtes uit die skool geskors, en terwyl hy die skool verlaat het, het hy onderwysers beledig en hulle met klippe bestook.

Sy sê lede van die gemeenskap en leerders het aangedring op optrede deur die onderwysdepartement. Volgens haar is Openbare Orde Polisie ontplooi om die situasie te stabiliseer.

LEES OOK: Teenstrydige bewerings nadat leerder glo deur onnie aangerand is

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article