Jong kaasmaker van Stanford vertel oor haar passie en waar haar belangstelling vandaan kom

Kay-Marie Swart, ‘n kaasmaker van die Stonehouse-kaaslandgoed buite Stanford, vertel hoe haar liefde vir die kaasmaak-proses ontwikkel het.

Jong kaasmaker van Stanford vertel oor haar passie en waar haar belangstelling vandaan kom

Kay-Marie Swart, ‘n kaasmaker van die Stonehouse-kaaslandgoed buite Stanford, vertel hoe haar liefde vir die kaasmaak-proses ontwikkel het.

Dit is duidelik – Suid-Afrika, en veral die Overberg – pronk met kaasmakers van wêreldgehalte. Van bokkaas tot plaaslike jerseykaas – in die Overberg kraai kaas koning.

Kay-Marie Swart, ‘n kaasmaker van die Stonehouse-kaaslandgoed buite Stanford, is een van die kaasmakers van die Overberg wat die streek se naam hoog hou. Haar “kaasmaak-reis” het begin toe sy as kind die jersey-kalwers op die plaas met ‘n bottel help grootmaak het. “Daar het ek geleer hoe om na die diere om te sien en later het ek self die koeie gemelk. Die hele proses het my geleer om suiwel te waardeer en gehalte na te streef.”

Toe die Stonehouse-landgoed sy eie kaasfabriek begin het, het sy nie twee keer gedink om haar kennis oor suiwel uit te brei en daar aan te sluit nie. “Ek het as assistent-kaasmaker gewerk en baie by die destydse hoofkaasmaker, André Kruger, geleer. Ek het geleer van die rypmaak van kaas, die geure en tradisionele metodes tot die nuutste prosesse oor hoe om kaas te maak. Een ding wat my na aan die hart lê, is die gehalte van die kaas en met elke kaas wat ons maak, wil ek graag die beste gehalte vir ons klante gee.”

Vandag is Kay-Marie die hoof van produksie en in beheer van die reeks  kase wat Stonehouse vervaardig – van sagte witskimmelkase soos camembert en brie tot die harde verouderde kase soos pecorino, boerenkaas en bergkaas asook semi-harde kase soos cajun, Italiaanse kruie, swartpeter en knoffel en grasuie. Stonehouse en Kay-Marie se passie vir kaas het hulle al verskeie pryse in die sak gebring.

“Ons het in Mei vanjaar ‘n dekade gevier sedert die opening van Stonehouse-kaasfa­briek,” vertel sy. “Wat vir my begin het as die versorging van kalwers, het gegroei tot ‘n volledige plaas-tot-kaas-bedryf. Elke stap – van produksie tot die kaasbord – word met die hand en met sorg gedoen.”

Kay-Marie sê sy het die afgelope dekade beduidende veranderings in die suiwelbe­dryf gesien – veral in die ­kaasmaak-proses. “Dit was gewoonlik ‘n tipies manlike, ouderwetse rol,” sê sy. “Maar die bedryf het die afgelope 10 tot 15 jaar ‘n werklike verskuiwing ervaar.

“Vandag word baie van die kleinskaalse kaasproduksie deur vroue bedryf.” Volgens haar lei sy toenemend op gebiede soos mikrobiologie, rypingsbeheer en ­geurontwikkeling.

“Die vordering wat ek opgemerk het, is onder meer dat meer vroue hul eie suiwelondernemings besit.”

Sy moedig ook jonger vroue aan om hul voete in die bedryf te vind en beveel aan dat hulle nie net die proses onder die knie moet kry nie, maar ook die sakekant. “Jy moet dit sien as een – as jy ‘n passie het om kaas te maak, moet jy ook die passie hê om jou kaas te kan bemark en te verkoop.”

Sy is ook nie bang om haar kennis met ander te deel nie. “Ek wil dit wat ek geleer het, graag met ander deel – veral vroue. Vroue het ‘n natuurlike aanvoeling vir die bedryf en ek wil dit graag met hulle deel.”

Kay-Marie se dae is opwindend en soos sy dit stel, is elke dag anders. Elke week beplan sy produksieroosters en kyk na die voorraad in die koelkamers voordat sy met die kaasmaak-proses begin.

“Om kaas te maak, is tydsberekening van kardinale belang. Om kaas te maak vereis die balansering van wetenskap en instink. Instink kan jy net deur ervaring kry en die wetenskap is dit wat jou van foute weghou. Daardie presiese balans maak dat jou kaas goed is.”

Vra jy haar oor wat haar gunstelingmaniere is oor hoe om kaas te gebruik, vertel sy sonder om te skroom: “Gebakte camembert bedruip met heuning en kruie; sagte kaas tot ‘n hartige smeersel geklop vir suurdeegbroodroosterbrood en goeie kaas eenvoudig deur warm pasta gevou met swartpeper en ‘n bietjie pastawater om ‘n eenvoudige romerige sous te skep!”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article