In wat as ‘n reusedeurbraak vir natuurbewaring aan die suidpunt van Afrika bestempel word, is pas aangekondig dat ‘n fynbos-wandelpad in Struisbaai uitgelê gaan word.
Dié aankondiging is op 17 Junie op ‘n buitengewone openbare vergadering, belê deur die Agulhas Erfenis- en Bewaringsvereniging (die AEBV) in die Suiderlig-dienssentrum in Struisbaai, gedoen.
Die voorsitter, Danie Schutte, het bekend gemaak die Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM) het Erf 1256, wat aan hom behoort, “in beginsel vir die totstandkoming van ‘n wandelpad beskikbaar stel”.

Erf 1256 beloop etlike hektaar en strek van die Suiderlig-dienssentrum tot by die nywerheidsgebied aan die buitewyke van Struisbaai.
Verkeie skaars en besonderdse fauna-spesies kom daar voor – almal tipirend van die kalksteenagtige geo-strata. Almarie Conradie, ‘n plaaslike flora-kenner, het reeds van die volgende plantsoorte op die wandelroete geïdentifiseer – stinkblaar-protea, groenheide, tolbos, kommetjieteewater, aambeibossie, agdaegeneesbossie en spinnekopblom.
Wandelpad gaan sirkelroete wees
Volgens Schutte sal die wandelpad ‘n sirkelroete omvat en ‘n habitat en skuilplek vir plaaslike fauna soos bokkies, skilpaaie, slange en voëls bied. “Ons sal nie ‘n enkele meter van die natuur aantas nie en is oortuig ‘n omgewingsimpakstudie sal heeltemal onnodig wees,” het Schutte beklemtoon.
Die vereniging het aanvanklik twee erwe in die omiddellike omgewing van die dienssentrum in gedagte gehad. Die een erf behoort egter aan die departement van openbare werke. Schutte het in sy onderhandelings omvattende korrespondensie met die munisipale bestuurder, Wessel Rabbets, gevoer voordat die ooreenkoms beklink is, hangende ‘n gedetailleerde memorandum van ooreenkoms tussen die twee partye. KAM se posisie is dat die wandelpad toerisme onteenseglik kan en sal bevorder, en daarom gaan hulle akkoord met die inisiatief van die AEBV.
Die vergadering het eenparig besluit hy ondersteun hierdie stap heelhartig. Almal het saamgestem die wandelpad sal ‘n betekenisvolle bydrae vir die gemeenskap en die omgewing lewer.
Geesdriftige lede van die vereniging het reeds begin om ‘n voorlopige roete deur die fynbos uit te lê en rommel, wat oor die jare daar gestort is, op te ruim. Indringerbos soos rooikrans sal ook verwyder word. Rusplekke met banke waar wandelaars die natuurskoon kan geniet, word in die vooruitsig gestel.




You must be logged in to post a comment.