Brooklyn, jongste skeidsregter van Boland, gereed vir die rugbyseisoen

Brooklyn Okkers van die Hoërskool Overberg, wat as die jongste rugbyskeids­regter in die Boland gekwalifiseer het. Foto: Mitzi Buys

“Ek kom uit ‘n rugbyhuis. Ons as gesin het gereeld voor die TV gesit en rugby gekyk – veral as dit ‘n Wêreldbekerreeks was. Maar, om eerlik te wees – ek het dit nie altyd verstaan nie,” sê Brooklyn Okkers, die 17-jarige graad 12-­leerder aan die Hoërskool Overberg, wat pas as die jongste rugbyskeidsregter in die Boland gekwalifiseer het.

Brooklyn het aan Hermanus Times gesê sy en haar ma, Abigail, het vier jaar gelede na Swartberg Sekondêr se interskole-rugbywedstryde gekyk. Hulle was op pad uit toe Brooklyn sien Caledon se derde span draf uit om te speel. “Hoewel ek in daardie stadium nog nie in klubrugby belanggestel of eintlik geweet het waaroor dit gaan nie, het ek vir my ma gesê ek wil graag kyk. Ek was ­absoluut amazed”. Terug by die huis het Brooklyn haar pa, Brendon, gevra om haar meer oor­ rugby en die reëls te vertel, wat sy glad nie geken het nie.

Toe Brooklyn se jonger broer Mason begin rugby speel, het hulle as gesin elkeen van sy wedstryde bygewoon. As vurige Callies-ondersteuners het hulle ook gereeld klubwedstryde ­bygewoon. “Ek het begin belangstel in die calls wat die skeidsregters maak en hulle al hoe meer dopgehou,” sê Brooklyn.

Brooklyn het verlede jaar gesê sy wil graag ‘n skeidsregter word. “My ouers ondersteun my al die pad en nadat ek my BokSmart-kwalifi­kasie verkry het – ‘n veilig­heids­kwalifikasie wat vir alle skeidsregters verpligtend is – het my pa voorgestel dat ek ook World Rugby se kursusse doen. Ek het die ses World Rugby-kursusse aanlyn gedoen en op 26 April die praktiese deel by die Boland-­stadion in Wellington.”

Brooklyn mag weens haar ouderdom nog net in skolerugby-wedstryde blaas. “Ek het nog nie wedstryde geblaas nie, maar een van die afrigters hier by die skool het aangebied dat ek hom kan ­shadow wanneer die seuns oefen en teen mekaar speel.”

Benewens hokkie neem Brooklyn aan verskeie skoolaktiwiteite deel. Sy is die hoof-rasieleier en is lid van die redenaars- en debatspan. Sy beoog om ná skool in die regte te studeer. “Ek is baie erg oor reg en orde en om die regte ding te doen en ek voel die skeidsregter-dinge gaan my ook help om die regte besluite in sekere situasies te neem.”

Brooklyn se droom is om die fluitjie in ‘n Wêreldbekerwedstryd te blaas. “Ek wil mense aanspoor om hul drome te volg. As jy die passie en liefde vir iets het, kan jy enigiets doen. Go for it!”

Haar skoolhoof, Johan Jacobs, sê: “Ons as skool is baie trots op haar prestasie. Toe ek dit aan die leerders oorgedra het, was almal baie opgewonde maar ook verbaas omdat sy dit so stil gehou het. Brooklyn is ‘n baie voorbeel­dige leerder. Sy het passie en dryfkrag en is ‘n goeie sportvrou.

“Ons hele visie is om ‘n positiewe atmosfeer vir die leerders te skep waar hulle gelukkig is en waar hulle hul potensiaal kan ontdek en ontwikkel. Brooklyn is ‘n goeie voorbeeld hiervan. In die laaste jare het sy op haar stil, ordentlike manier haar potensiaal ontdek en ontwikkel en sy leef dit nou voluit uit. Sy sal ondervinding moet opdoen en ons volgende stap is om haar te help en te ondersteun. Sy is nou in haar matriekjaar; die tyd is min. Wie weet, dalk is sy die volgende Hollie Davidson, die wêreldbekende vroue skeidsregter. Niks staan in haar pad om dit te bereik nie,” sê Jacobs.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article