Internasionale Teedag word reeds sedert 2005 wêreldwyd op 21 Mei gevier. Dié dag vier nie net die genot van ‘n lekker koppie tee nie, maar ook tee se kulturele erfenis, wêreldwye volhoubare produksie, ekonomiese belangrikheid asook die gesondheidsvoordele wat tee inhou. In Turkye drink 95% van dié land se bevolking tee, tradisioneel swart en baie soet uit klein teeglasies.
Ter viering van internasionale teedag het die Caledon-biblioteek ‘n oggendtee vir die inwoners van Tafelronde-herberg aangebied. Daar was ‘n verskeidenheid van tees om van te kies: van “gewone” swart tee, groen tee asook ‘n wye verskeidenheid gegeurde tee en natuurlik Suid-Afrikaanse rooibostee. Rooibostee is een van die tees wat die meeste gesondheidsvoordele inhou en is nou vryelik wêreldwyd beskikbaar.
Sybil Lee, hoof van TWK-biblioteekdienste, het ‘n kort agtergrond oor internasionale teedag aan die inwoners gegee en ook die groot verskeidenheid tees en hul onderskeie gesondheidsvoordele aan hulle verduidelik. Lee het ook ‘n kort gedig oor tee voorgelees.
Hoewel baie van die inwoners eintlik koffiedrinkers is, het almal tee gedrink en baie het vir die eerste keer van die heerlike kruie- en vrugtetees gedrink. Soos dit by ‘n teepartytjie hoort, is koek en beskuitjies voorgesit.
“Kom ons gesels oor ‘n lekker koppie tee” was beslis aan die orde van die dag. Raadslede Carol Benjamin en Yvonne van Tonder het ook die teepartytie bygewoon en, soos die inwoners, dit terdeë geniet.





