Cape Canopy Tours buite Grabouw is as die Beste Avontuurervaring benoem.


Dit is die derde agtereenvol­gende jaar waarin die beste ondernemings, dienste en individue vir hul uitmuntende diens vereer word, en net soos die afgelope drie jaar het verskeie ondernemings in die Overberg die kans om met Kfm 94.5 se Best of the Cape-toekennings weg te stap.

Die gewilde Wes-Kaapse radiostasie se besluit om drie jaar gelede goeie diens te vereer, het behoorlik uit sy nate gebars met honderde benoemings in die 30 afdelings.

Net soos voorheen het die Overberg uitgeblink toe die finaliste verlede Dinsdag (23 Julie) aangewys is.

Quayside Cabin in Hermanus is aangewys as finalis vir beste gesinsrestaurant terwyl Milk on the Beach in Onrus benoem is vir die beste dierevriendelike restaurant. Die Houw Hoek- en Peregrine-padstalle in Grabouw is weer eens vir die beste padstal benoem – Peregrine het verlede jaar met die louere weggestap terwyl Houw Hoek die prys in 2021 en 2022 gewen het. Die Biltong Boys in Swellendam is ook vanjaar in die Beste Biltong-afdeling benoem.

Soetmuisberg in Bredasdorp is weer as die beste winkel in die buurt benoem terwyl De Uijlenes in Gansbaai moet meeding in die beste trou-venue-afdeling. Vir die Beste naweekwegbreek is Rivergate-gasteplaas in Stanford en Southern Yurts in die Van der Stel-pas in Botrivier benoem.

buitelugaktiwiteite

Die toekennings het ook weer eens gewys waarom die Overberg net die plek vir die avonturier is, met genoeg buitelugaktiwiteite asook bergfietsroetes om van te kies en te keur. In die afdeling as die beste avontuur-ervaring is die Cape Canopy Tour in Grabouw benoem terwyl Fatbike Tours in Gansbaai ook die erelys gehaal het. Vir die beste plek om te sweet, is die Hermanus-bergfietsroetes in die Hemel-en-Aarde-vallei ook benoem.

Elgin Railway Market, wat verlede jaar die wenner was, is weer vanjaar benoem asook die Hermanus Country Market, wat sluiting in die gesig gestaar het. Die Elgin Railway Market, wat verlede jaar die wenner in die afdeling was en vanjaar die derde jaar agtereen benoem is, het op sy Facebookblad gesê hy is in ekstase om weer benoem te word.

“Ons het nou almal se hulp nodig sodat ons vir die tweede jaar die gesogte prys kan wen. As jy ’n aanhanger van ons mark is, gaan stem asseblief.”

Gelukwensings het ook vir die Hermanus Country Market ingestroom nadat die mark ook in die afdeling benoem is. Die moontlike sluiting van Hermanus Country Market het baie reaksie uitgelok en met die stryd om die mark se deure oop te hou, is bevind dat aanhangers van oor die land heen die mark as een van hul gunstelingtydverdrywe beskou.

Nog ’n nuweling in Hermanus wat die lys gehaal het, is Lorenzo’s Barber Shop, wat vir die beste manshaarkapper benoem is.

STEM TOT 1 aUGUSTUS

Luisteraars kon van 2 Julie hul gunstelingplekke benoem en die benoemings het op 12 Julie gesluit. Jy het tot môre (Donderdag 1 Augustus) om 19:00 om vir jou gunstelingplek te stem en die wenners word op 15 Augustus bekend gemaak.

Om te stem, besoek die webblad https://buff.ly/3Wd37Xu of besoek https://bestofthecape.primediaplus.com/vote.. Verlede jaar is die Peregrine-padstal as die beste padstal aangewys terwyl Houw Hoek met die prys in 2021 en 2022 weggeloop het.

Hermanus Country Market (2021) en Elgin Railway Market (2022 en 2023) het al voorheen die prys gewen, terwyl Soetmuisberg die prys in 2021 gewen het en Southern Right Charters die beste avontuur ook in 2021 gewen het.

Old Mac Daddy – ook in Grabouw – het verlede jaar die prys as die beste hotel gewen terwyl Cape Canopy Tours die gesogte prys ook in 2022 gewen het.

Ou Meul, wat in Stanford, Botrivier en Riviersonderend geleë is, het verlede jaar die prys vir die beste bakkery gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article