Benguela Cove by Hermanu is as een van die beste wynplase in die wêreld aangewys.


Die Overberg spog met van die bestes: Arabella-gholfbaan, die beste walviskyk-bestemming, die beste dorp in die Cape Epic en ook van die beste vakansiebestemmings.

Nuut by die lys van “die bestes” is Beguela Cove wat onlangs as een van die beste wynplase in die wêreld aangewys is.

Hierdie gesogte jaarlikse lys is geskep om wyntoerisme oor die wêreld heen te bevorder en weerspieël ook die besoekers se ervarings.

Meer as 500 voorste wyn- en reiskenners asook fynproewers was betrokke by die stemproses. Die wynplase is benoem op grond van die volgende kriteria: wyne, atmosfeer, aktiwiteite, spyskaart, kliëntediens, uitsig en waarde vir jou geld.

Volgens Penny Streeter van Benguela Cove is hulle verheug dat hulle die 53ste plek ingeneem het. “Daar was meer as 65 000 inskrywings wêreldwyd en ons het dit bereik in net 10 jaar. Dié prestasie kon ons nie behaal het sonder ons gasvryheidspanne en die ander werknemers op die plaas nie. Sonder hulle toewyding sou ons dit nie behaal het nie. Dit is ’n eer om te sien dat ons pogings op ’n wêreldwye skaal erken word en dit motiveer ons net om nog beter te word en vir ons besoekers daardie unieke ervaring te skep,” het sy gesê. “Dankie aan almal wat ons op die reis ondersteun het.”

Die lys word geskep nadat die benoemings van byna 500 wyn-, reis- en wyntoerismekenners van regoor die wêreld getel en saamgevat is. Die lys, nou in sy vyfde jaar, bied ’n insig in die beste “all-round- kelder-ervaring”.

Die Overstrand-munisipaliteit se burgemeester, dr. Annelie Rabie het ook Benguela Cove geluk gewens met die prestasie: “Baie geluk Benguela Cove. Julle harde werk en nuwe idees het vrugte afgewerp. Overstrand is trots op die juweel wat bydrae tot die wyntoerisme van ons omgewing.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article