Yvonne Pretorius, Lynn Pietie en Corrie Fogwell. Lynn het gepraat oor kleure en style wat by verskillende vroue pas. Foto: Mitzi Buys

Die lede van Caledon se vrouelandbouvereniging baie bedrywig

Yvonne Pretorius, Lynn Pietie en Corrie Fogwell. Lynn het gepraat oor kleure en style wat by verskillende vroue pas. Foto: Mitzi Buys

Die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) het ‘n paar besonder bedrywige maande agter die rug. Nie net is daar gebak en gebrou, gehekel, geborduur, gebrei en ingelê nie, maar daar was ook interessante sprekers tydens die maandelikse vergaderings, asook ‘n uitstappie en ‘n baie suksesvolle geldinsamelingsprojek.

Tydens die Maart-vergadering het dr. Mike Simon, afgetrede geneesheer van Grabouw, die lede toegespreek oor parkinsons. In sy insiggewende praatjie het Simon die oorsake, behandeling asook die pad vorentoe bespreek. Thinus Ries van Kleinmond het vir die lede die Lekkersing-VLV-lied kom leer. Na ‘n paar wankelrige probeerslae het almal lekker saamgesing.

In Maart het van die lede van die Caledon-tak die 92ste konferensie van die VLV Sirkel Overberg in Hermanus bygewoon. Hier het hulle vier trofeë verower. (“Sirkel Overberg kom weer byeen.” Hermanus Times 18 Maart 2026).

In April het die lede ‘n baie interessante uitstappie na Tesselaarsdal onderneem. Elmarie de Bruyn van Herbs-Aplenty het hulle meer oor haar kruieboerdery vertel en die verwerking van kruie na verskeie produkte. Na die praatjie is die res van die vergadering se besprekingspunte sommer daar en dan bespreek.

Lede tydens die kuier by Elmarie de Bruyn se Herbs-Aplenty in Tesselaarsdal. Van links is Louise Pyper, Elmarie de Bruyn, Adri Liebenberg, Anja Hamman, Corrie Fogwell en Eldien van Rooyen.

Verskeie lede het die VLV-inligtingsdag in die Rietpoelsaal bygewoon. Tydens die inligtingsdag, wat deur die Jongensklip-tak en die Villiersdorp-tak aangebied is, is lede oor die kompetisie-artikels wat gemaak moet word vir die 2027-konferensie ingelig.

‘n Hoogtepunt van April was beslis die baie suksesvolle geldinsamelingsprojek op 29 April, waar lede in hul onderskeie dorpe ‘n staptog gereël het om geld vir Kansa in te samel. (“VLV stap saam vir Kansa” Hermanus Times 6 Mei 2026).

Lynn Pietie van Komtessa Boutique in Gansbaai het die lede tydens die Mei-vergadering toegespreek.

Sy het die dieper betekenis van kleur en hoe kleur mense beïnvloed verduidelik en ook verskeie voorbeelde van klere gewys en bespreek watter soort klere by watter persoonlikhede en figure pas. Lynn het die vergadering so geniet dat sy sommer aangebly het na haar praatjie en heerlik saam met die lede gekuier terwyl sy saam met hulle nuwe borduursteke geleer het.

Die lede het ook die voorsitter Corrie Fogwell, wat die dag voor die vergadering verjaar het, met ‘n pragtige verjaarsdagkoek bederf.

Die Caledon-tak vergader elke eerste Donderdag van die maand in die Weskerk-saal. Vir verdere inligting bel Corrie Fogwell by 083 270 8374.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article