Die Grabouw Animal Welfare Society is dringend op soek na skenkings of geld om hulle nood te verlig.

Dierewelsyn in Grabouw dringend op soek na skenkings

Die Grabouw Animal Welfare Society is dringend op soek na skenkings of geld om hulle nood te verlig.

“Ek sal doodgaan vir diere,” vertel Shirley Surridge van Grabouw.

Shirley is passievol oor dit wat sy doen en as sy jou vertel oor die nood daar buite, dan rol die trane. Sy is al 10 jaar betrokke by die Grabouw Animal Welfare (Gaws) en soos sy dit stel, word dit nie makliker nie.

Tydens haar onderhoud met Hermanus Times rol die trane terwyl sy in die Gaws-bakkie in een van die woonbuurte sit. “Ek sit hier en kyk hoe honger ‘n klein hondjie is. Ek besef die hondjie is nie net honger nie, maar het ook dring- end ontwurmingsmiddel nodig. My hande is afgekap, want ons het nie genoeg geld om in al die behoeftes van die diere te voorsien nie,” vertel sy.

Sy vertel dat hulle gereeld deur die woonbuurte ry en selfs skuiling vir die diere aanbied. “Tydens die storms was dit erg, diere wat in die nat en koue weer buite vasgemaak is. Gelukkig het ons ingespring en dit reggestel. Ons het ook beskutting en komberse vir die diere uitgedeel.”

Ná die onlangse vloede is die nood nog groter en benodig hulle dringend kos vir al die diere. “Om nie eens van ons veeartsrekening te praat nie. Wat die mense nie besef nie, is dat ons daar is vir al die diere, nie net honde en katte nie. Ek kom nou net van volstruise en perde af wat ons hulp nodig het en ons het ook onlangs ‘n uil gehelp wat raakgery is. Ons passie is diere en wanneer ‘n dier swaarkry, kry ons swaar.”

Die inwoners is al gewoond aan die wit bakkie wat deur die woonbuurte ry en kos vir die diere uitdeel. “Afgesien van die diere wat ons gereeld voer, ontwurmingsmiddel gee asook was en dip, hou ons ook gereeld sterilisasie-uitreike. Ons is weer die week in Knoflokskraal om die diere daar te steriliseer.”

Wat haar seker die meeste tref, is dat die nood net ­groter en groter word. “Die winter is nou hier, die diere het hulp nodig en ons het ‘n tekort aan geld. Ek hoop iemand sien en lees ons nood raak sodat ons ‘n verskil kan maak vir die diere daar buite.”

Soos Shirley dit stel, kan Gaws nie funksioneer sonder hulp van die inwoners of sakeondernemings nie. “Ons is ‘n organisasie sonder winsbejag en is geheel en al afhanklik van die inwoners se goedhartigheid. Ons het ‘n verskriklik wye gebied om te dek en die nood is baie groot.”

Tans het Gaws ‘n veeartsrekening van meer as R40 000 wat dringend aandag met kry en Shirley vertel dat hulle letterlik met hul hande in hul hare sit.

“Ons het nie eens genoeg geld om kos vir die diere te koop nie. Gelukkig is daar instansies soos Grabouw Spar wat ‘n trollie vir ons by die ingang van hul winkel het waar mense kos vir die diere kan skenk. Ons vra die inwoners se hulp om ons deur die moeilike tyd te kry. Enigiets is welkom.

“Dis nou winter en nie net eet die diere meer nie, maar dit is koud daar buite en dit is skokkend om te sien hoeveel diere in die koue en reën buite slaap,” vertel sy.

• Kontak Gaws by 071 258 5770 vir nog inligting. Of maak ‘n geldelike bydrae. Bankbesonderhede vir die veeartsrekening: Grabouw Animal Clinic. Tak: FNB. Takkode: 200312. Rekeningnommer: 62091293953. Verwysing: Gaws.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article