Die storms wat die Overberg onlangs getref het, het menige mens gestrand gelaat, met paaie wat gesluit is. Ander was in die donker gehul toe dorpe vir dae sonder elektrisiteit was. Sommige is selfs haweloos nadat die stormwinde baie mense dakloos gelaat het.
Dit is nie net die mense wat onder die storms deurgeloop het nie – diere het ook in die slag gebly.
Die rehabilitasiespan van die African Penguin and Seabird Sanctuary onder leiding van Xolani Lawu en dr. Annamarie Robberts het behoorlik hul hande volgehad om see- en skulpdiere te red.
Volgens Lawu is hulle oorval deur bekommerde inwoners wat hulle oor diere gekontak het. “ ’n Vrou van Stanford het my gekontak oor ‘n albatros wat sy op ‘n plaas buite Stanford opgemerk het. Die arme dier was letterlik windverwaaid en kon nie vlieg nie. ‘n Ander inwoner het ons ook gebel oor ‘n skua wat ernstige beserings opgedoen het,” vertel Lawu.
Lawu sê die albatros het gelukkig geen beserings opgedoen nie, maar die skua het ‘n ernstige hou aan sy kop gehad en sy snawel is beskadig.
“Die goeie nuus is dat albei hierdie geveerde besoekers, wat duisende kilometers aflê om die mees suidelike punt van Afrika te bereik, ten volle gaan herstel. Ons het hulle onder infrarooi ligte gesit, ‘n bietjie liefde en aandag gegee en met die regte medikasie en voeding was hulle gou weer op die been.”

Die behandeling van die diere gaan met risiko’s gepaard. Lawu sê ‘n mens moet versigtig wees om die pragtige albatros te behandel. “Albatrosse voed op vis, inkvis en ander skaaldiere en hy kan maklik jou vinger vir ‘n inkvis aansien.”
Die swartrugalbatros is ‘n unieke voëlspesie. Volgens navorsing is daar net 1,2 miljoen van dié voëls oor. “Die getal swartrugalbatrosse neem in baie plekke af. Dit kan daartoe lei dat dié diere ook bedreig word.”
Die spanne by Marine Dynamics en die Dyer Island Conservation Trust was opgewonde om hierdie twee spesiale pasiënte te behandel en kan nie wag om hulle vry te laat nie.
In ‘n ander reddingspoging is die rehabilitasiespan ook ingelig van ‘n gestrande seeskilpad. Gelukkig werk die African Penguin and Seabird Sanctuary nou saam met die Two Oceans Aquarium Turtle Rescue en is die seeskilpad veilig na die Two Oceans Aquarium vervoer waar hy gerehabiliteer sal word voor hy weer vrygelaat word.
“Mense word aangemoedig om dadelik die reddingsnoodlyn by 083 300 1663 te skakel as hulle op ‘n gestrande seeskilpad afkom. Of skakel 072 598 7117 as julle ander seediere sien wat hulp nodig het,” vra Lawu.






You must be logged in to post a comment.