AfriForum se Boland-takke het op 11 en 12 April ‘n suksesvolle rampbestuur- en veldbrandopleidingsessie in Pearly Beach bygewoon. Tarien Cooks, ‘n rampbestuurspesialis by AfriForum, het dié opleiding vir onderskeidelik die Worcester-, Overstrand- en Struisbaai-takke aangebied.
Altesaam 40 lede het aan die opleiding deelgeneem, wat daarop gemik was om gemeenskappe beter toe te rus om doeltreffend op rampe en veldbrande te reageer, asook om proaktiewe voorkomingsmaatreëls te bevorder.
Die rampbestuuropleiding het gefokus op die raamwerk van rampbestuur in Suid-Afrika en hoe dit werk, samewerking tussen die verskillende sfere van regering se rampbestuursafdelings, asook die rol wat AfriForum binne hierdie strukture kan vervul. Deelnemers is ook toegerus met praktiese kennis oor wat om voor, tydens en ná ‘n ramp te doen.
Die doel van die veldbrandopleiding was om lede se eie veiligheid te bevorder, veldbrande te help voorkom en duidelikheid oor AfriForum se rol tydens sulke voorvalle te skep. Nog fokusgebiede was die nodige optrede voor, tydens en ná veldbrande op tak- en buurtwag-vlak, asook samewerking met ander rolspelers. Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se voortdurende pogings om gemeenskappe te bemagtig en teen noodgevalle en natuurrampe weerbaar te maak – veral in gebiede wat gereeld deur veldbrande geraak word.
“Die opleiding het die AfriForum-takke met die nodige kennis oor die voorkoming en bestryding van veldbrande toegerus. Dit het hulle ook gewys hoe gedissiplineerde optrede voor, tydens en ná rampe ‘n tasbare verskil in hul gemeenskappe kan maak,” sê Cooks.
Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het haar opregte dank en waardering aan Cooks vir die aanbieding van die opleiding uitgespreek, asook aan Fanie Coetzee, die voorsitter van die Overstrand-tak, vir sy leiding en reëlings.
Van Dalen het ook Mark Boontjies van AfriForum se Pearly Beach-buurtwag vir hierdie tak se bydrae tot die sukses van die geleentheid bedank. “Dit is vir ons belangrik dat ons takke en buurtwagte met behulp van opleiding en samewerkingsgeleenthede kan ontwikkel. Só kan ons saam aan meer veerkragtige gemeenskappe bou,” sluit Van Dalen af.




