Die Caledon-Rapportryers se jaarlikse afvalete is ‘n geleentheid wat altyd groot byval vind.
Afvalliefhebbers kon kies tussen vaal- of kerrieafval, wat lank en stadig in ysterpotte oor kole gekook is, en diegene wat nie van afval hou nie, kon aan ‘n waterblommetjiepotjie en ‘n skenkelpotjie smul.
Die onlangse afvalete was nie net ‘n geldinsamelingsprojek nie, maar ook ‘n geleentheid waar die gemeenskap heerlik kon saamkuier oor ouer en skaarser geregte, want min mense sien deesdae kans om afval te kook.
Wessel du Toit sê die vure is reeds om 12:00 aangesteek sodat die potte om 13:00 kon begin prut. “Ons het drie kerrie-afvalpotte, drie vaal-afvalpotte, een skenkelpot en twee waterblommetjiepotte gehad, waaruit 165 etes bedien is. Heerlike tuisgebakte brood met kaas en konfyt is saam met die etes bedien,” sê du Toit. “Om ‘n Rapportryer te wees, gaan oor meer as net deelname – dit gaan oor diens, kameraadskap en hande vat waar dit nodig is. Dis die lekker van saamstaan en saam lag terwyl gewerk word en die wete dat elke klein bydrae ‘n groot verskil maak.”
• Oorskiet-afval is aan die Tafelronde Herberg geskenk.





