Matao le Roux (regs) en sy afrigter, Heinrich Fortuin, tydens ‘n oefensessie.

Matao le Roux, Caledon se 17-jarige hoogspringsensasie, het sy ASA-o.18-hoogspringtitel op die ASA-ouderdomsgroepbyeenkoms, wat van 26 tot 28 Maart in Germiston gehou is, suksesvol verdedig asook ‘n persoonlike beste prestasie met ‘n allemintige sprong van 2.15 m behaal.

Dit was met sy laaste sprong die afgelope Saterdag (28 Maart) dat Matao sekuur op 2.15 m oor die dwarslat geseil het.

“Ek het daai dag geweet ek kán dit doen, want ek het geweet ek gaan dit vir my oupa doen sodat ek hom kan trots maak,” het Matao met Hermanus Times gedeel.

“Ek was baie opgewonde oor my sprong, maar ek weet ek kan nog beter doen en selfs nóg hoër spring. My doelwit is om vanjaar nog oor 2.20 m te spring. Ek is wel trots op myself, maar terselfdertyd het ek myself ook verbaas. Maar ja, die lewe kom met baie verbasings.”

Hermanus Times het ook met Matao se afriger, die voormalige Caledonner Heinrich Fortuin, gesels.

“Om te sê dat ek trots is op Matao se prestasie, is ‘n understatement. Matao het die laaste jaar baie goeie vordering getoon en dit in sigself eis baie opoffering. Sy oefenprogram is meer gestruktureerd en spesifiek vir hom aangepas. Hy oefen elke Dinsdag en Donderdag in Stellenbosch. Dit kos opoffering om op dié dae van Caledon na Stellenbosch te reis, maar dit wys dat hy werklik vordering in sy sportloopbaan wil maak,” sê Fortuin.

“Matao het baie talent en potensiaal en hy kan vanjaar nog nog hoër spring. Ons doelwit is om vir die wêreld-o.20-kampioenskap later vanjaar in Oregon, Amerika, te kwalifiseer. Die hoogte van 2.15 m wat hy Saterdag gespring het, is gewis ‘n kwalifiserende hoogte vir die wêreldkampioenskap, maar die span wat gaan deelneem, word eers op 30 Mei aangekondig.”

Op ‘n vraag oor waar en wanneer Matao volgende gaan deelneem, sê Fortuin hulle het besluit om nié aan die SA skolekampioenskap deel te neem nie en dat Matao eerder aan die SA Senior kampioenskap gaan deelneem, wat van 16 tot 18 April in Stellenbosch beslis word.

“Eerstens wil ek vir die Here dankie sê vir Matao se talent,” sê Maeve Jonkers, Matao se ma. “Dis deur Sy genade dat Matao so goed presteer.

“Hierdie was ‘n baie moeilike week vir ons as familie toe ons my pa – Matao se oupa, Martin Philander – verloor het. Matao het egter steeds gegaan en ‘n nuwe persoonlike beste van 2.15 m gespring. Hy het dit vir sy oupa gedoen. Sy oupa het hom dikwels by byeenkomste ondersteun.

“Matao is een van ‘n paar Suid-Afrikaanse atlete wat op 17-jarige ouderdom 2.15 m kon haal. Dit is ‘n groot prestasie wat my kind behaal het en ek borrel oor van die trots. Ek was skoon in trane ná daai sprong van hom.

“Ek bedank ook sy afrigter. Hy verrig wondere. Dankie ook aan ons familie en weldoeners wat bygedra het sodat hy aan die kampioenskap kon gaan deelneem,” het Jonkers gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article