Overberg Agri het Caledon-rugbyklub (CRFC) se nuwe truie geborg en Francois Joubert, besturende direkteur van Overberg Agri, het die nuwe truie verlede Maandag (16 Maart) amptelik aan die bestuur en spelers van CRFC oorhandig.
Dié nuwe truie beeld nie net die omringende kanolalande om Caledon uit nie, maar weerspieël ook die klub se hernude visie om eenheid te bou en met die verlede herverbind te word. Die kleure en ontwerp van die nuwe truie simboliseer die erfenis van die klub sowel as die natuurlike skoonheid van die omgewing.
Dit is vir die Caledon-rugbyklub ‘n voorreg om met Overberg Agri, een van die gebied se mees gerespekteerde en historiese maatskappye, ‘n vennootskap aan te gaan en hulle sien uit na ‘n lang en betekenisvolle verbintenis wat gemeenskapsrugby en jeugontwikkeling ondersteun.
Die afgelope Saterdag (21 Maart) het al drie Callies-spanne op hul tuisveld in hul nuwe truie uitgedraf. ‘n Woordvoerder van CRFC sê dit verteenwoordig hul vasberadenheid om die klub se etos te herkalibreer om die toekoms met selfvertroue in te gaan – ‘n toekoms waar jong mense ontdek kan word en deur sport ontwikkel kan word.
Callies het teen Kleinmond gespeel. Die eerste span het 45-33 gewen en die tweede 47-28 terwyl die derde span met 10-12 die knie gebuig het.
Ander uitslae in die Grootuitdaag: Botrivier 85-13 Sea Hawks; Safcol 37-28 Villiersdorp; Hawston 45-12 Genadendal; Universals 53-15 Bredasdorp Rangers.





