“Elke druppel tel…” Dít is die belangrike boodskap wat in die boekie Tekile en die druppels wat saak maak oorgedra word. Die waterbewusmakingsboekie vir kinders, wat deur die Theewaterskloof-munisipaliteit saamgestel is, is verlede Dinsdag (17 Maart) amptelik by Swartberg Primêr bekend gestel.
Die bekendstelling van die boekie was deel van Caledon-biblioteek se Biblioteekweek-program. Graad-R- leerders is tydens ‘n interaktiewe saamleessessie aan Tekile, ‘n jong waterheld wat kinders oor die belangrikheid van water en waterbesparing leer, voorgestel.
In die boekie vertel Tekile nie net oor die belangrikheid van water nie, maar gee ook praktiese wenke oor die verantwoordelike gebruik van water en hoe om water te bespaar. Kutlaono Letshola en Vaughn Jacobs, albei YeBoneers verbonde aan die Caledon-biblioteek, het die program met ‘n lekker ysbreker begin waaraan al die leerders deelgeneem het. Letshola het op ‘n baie interaktiewe wyse die voorlesing van die boekie gedoen. Hy het nie net gelees nie, maar ook die leerders betrek deur vrae oor moontlike waterbesparing te vra, wat geesdriftig deur die leerders beantwoord is. Tot groot vermaak van die leerders was Jacobs die waterdruppel wat die belangrike boodskap tuisgebring het.
Die Caledon-biblioteek het ook verskeie kleuterskole besoek waar die boekie ook voorgelees is.
Dit is gepas dat die boekie gedurende Watermaand bekendgestel is en dit is deel van die TWK se voortgesette bewusmaking van waterbesparing – veral onder jonger leerders.
Die boekie is in Afrikaans, Engels en Xhosa by Theewaterskloof-biblioteke beskikbaar en digitale sowel as oudio-weergawes sal binnekort ook beskikbaar wees.





