Wyle Leslie Valentine

Hy was geliefd in Mount Pleasant, ‘n ware heer en ‘n “meester” wat menige inwoner van Hermanus deur die skoolbanke gesit het.

Leslie Valentine is op 15 Maart in die ouderdom van 86 jaar oorlede. “Prostaatkanker is 23 jaar gelede by hom gediagnoseer, maar hy het nooit gekla nie. Nou onlangs het die dokters ook lewerkanker by hom gediagnoseer en hy is kort ná die diagnose oorlede,” vertel sy dogters.

Oom Leslie, of “Meester”, soos hy alombekend gestaan het, was ‘n mensemens en al het hy die meeste van sy onderwysloopbaan in Mount Pleasant deurgebring, het hy ook by skole in die Kaap en selfs plaasskole skoolgehou. Maar dit was in Hermanus waar sy liefde gelê het – die kusdorp waar hy sy passie kon uitleef. “My pa was ‘n legend en sy familie en sy skoolgemeenskap was vir hom alles. Hy sou in die middel van die nag opstaan om ons te ondersteun. ‘n Mens kon altyd op sy knoppie druk,” vertel sy dogters hartseer.

Hy was ook bekend vir sy liefde vir kuns en geskiedenis en ná sy aftrede het hy bouplanne vir baie mense van Hermanus opgestel.

Oom Leslie sal altyd by Mount Pleasant Primêr, of die “Blouhuis”, onthou word, want dié onderwyser het die skoolembleem, “Kennis Verlig”, ontwerp.

“Sy lewe was nog altyd een van omgee; om ‘n verskil in iemand se lewe te maak.”

Sy dogters vertel dat hul pa op ‘n jong ouderdom vir sy vier susters en drie broers “pa” moes wees. “Ons oupa is op ‘n jong ouderdom oorlede en my pa moes help waar hy kon. Sy jongste broer was maar tien jaar oud, maar Pa het hulle skool toe gevat en later gesorg dat hulle selfs universiteit toe kan gaan. Al vier sy susters het onderwysers geword.”

Die man wat diep spore in Hermanus getrap het, is in Houtkloof naby Napier gebore.

Die Morawiese gemeenskap waar hy grootgeword het, het ‘n groot rol in sy lewe gespeel en tot op sy sterfbed het hy aan sy geloof vasgehou en volgens sy dogters het hy sy geloof uitgeleef ook.

“Ons pa was baie geestelik. Hy het sy drie broers en vier susters as gelowiges grootgemaak en ons onthou hoe hy elke aand huisgodsdiens met ons gehou het. Hy het so ‘n goeie nalatenskap vir almal agtergelaat.”

Sy dogters vertel dat hul pa sy hele begrafnis op sy sterfbed beplan het. “Hy het alles in detail vir ons vertel… waar hy begrawe wil word en wat gesing moet word. Ons gaan sy staaltjies, liefde en omgee mis, maar ons gaan veral die blou Golfie mis, wat net onverwags by jou opgedaag het wanneer jy dit die nodigste gehad het…”

Leslie word oorleef deur sy vrou, vier kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en die duisende dankbare oudleerders wat deur sy hande is.

Die begrafnis vind Sondag plaas. Besigting is om 09:30 by Sonneblomstraat, Mount Pleasant. Skakel 082 389 1879 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article