Sithembele Harmans van Iziko-museums wys ‘n voorbeeld van hoe ‘n pikkewyn opgestop word asook die eindproduk met Gerhard Afrika van Wyk van die Caledon-biblioteek wat toekyk. Foto: Mitzi Buys

Die vakansieprogramme wat die Caledon-biblioteek elke skoolvakansie vir laerskoolleerders aanbied, is iets waarna die kinders altyd uitsien.

Die Desember-program was kort en het net oor drie dae gestrek, maar dit was ‘n vol en verrykende program. Gerhard Afrika van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Ons het op die eerste dag die Kersverhaal gedeel – oor waarom ons Kersfees vier en die belangrikheid daarvan. Dag twee het ons lekker speletjies gespeel asook kunsvlyt gedoen. Die hoogtepunt was gewis dag drie, 18 Desember, se besoek van die Iziko-museums in Kaapstad. Dit was ‘n baie interaktiewe program waar die verskillende museums asook die belangrikheid van elkeen deur middel van ‘n skyfievertoning bekendgestel is. Baie van die leerders se skoolvakke is betrek en hulle is vertel van, onder meer, planete en fossiele en hulle is sekere vrae gevra wat betrekking daarop gehad het.”

Sithembele Harmans, die koördineer-der van die Iziko-museums se opvoedkundige uitreikprogramme, het die kinders in die holte van sy hand gehad. Harmans het met die kinders Engels gepraat en almal het aandagtig geluister en sy vrae met groot entoesiasme beantwoord. Harmans het verduidelik net soos die biblioteek boeke het om die kinders se kennis te verbreed, het museums artefakte, wat as die museum se “boeke” beskou kan word. Die grootste opwin- ding was gewis die uitstalling wat die museum-personeel buite die biblioteek opgerig het. Omtrent elke afdeling van die museum is hier uitgestal.

Daar was onder meer tradisionele krale- en mandjiewerk, ‘n yslike nekwerwel van ‘n walvis, slange en seekatte in glasbottels wat in alkohol gepreserveer is asook ‘n opgestopte pikkewyn. Harmans het verduidelik hoe taksidermie werk en verskillende stappe van die proses gewys. Hy het die kinders ook aan ‘n pikkewyn-pels laat voel. Dié demonstrasie, asook die voorbeelde in die glasbottels, is met jille, gille en in sommige gevalle grille begroet. Ter afsluiting was daar ‘n krale-aktiwiteit, waar elke kind ‘n armband gemaak het, wat hulle as aanden- king kon hou. Harmans het aan Hermanus Times gesê: “Die bussie waarmee ons vandag hier is, is Iziko-museums se mobiele museum. Soms is dit moeilik vir mense in afgeleë dorpe om ons museum te besoek, dus bring ons die museum na die mense. Ons weet wanneer die skole sluit, het baie kinders niks om te doen nie en daarom bied ons elke skoolvakansie ‘n vakansieprogram in Kaapstad en omliggende plekke aan en vandag het ons besluit om na die Caledon-biblioteek te kom. Ons program is opvoedkundig en interaktief en ons praat oor dinge wat in die verskeie ouderdomsgroepe se skoolkurrikulum is. Enige biblioteek wat van ons vakansieprogram gebruik wil maak, is welkom om my te kontak.”

Afrika van Wyk het genoem dat die vakansieprogramme nie net pret vir die kinders is nie, maar ook stimulerend… “en hulle maak nuwe maats”. Een van die ouers het aan hom genoem dat dié programme altyd ‘n hoogtepunt is, want hulle weet dat die kinders vir die duur van die program in veilige hande is.

“Die opkoms vir ons vakansieprogram was weer eens goed en dit gee ‘n mens moed om met ons programme voort te gaan,” sê Afrika van Wyk.

• Biblioteke wat belangstel dat die Iziko-museums ‘n vakansieprogram by hulle aanbied, kan Harmans by 021 481 3812 kontak of per e-pos by sharmans@iziko.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article