By die Caledon-biblioteek se borskankerbewusmakingsdag is Louise Moses (Right to Care), Naledi Maloyi (provinsiale biblioteekdienste), Gail Smith (gasspreker), Naomi Philander (Kansa), Gerhard Afrika- van Wyk (Caledon-biblioteek), Sybil Lee (hoof van TWK-biblioteekdienste), Cynthia Clayton (TWK-onderburgemeester) en Cwayita Nogcantsi (provinsiale biblioteekdienste). Foto’s: Mitzi Buys

Borskanker is die mees algemene soort kanker onder Suid-Afrikaanse vroue en daarom is borskankerbewusmakingsveldtogte so uiters belangrik.

Oktober is borskankerbewusmakingsmaand en gedurende dié maand vind verskeie aktiwiteite plaas – mense dra pienk strikkies, bome word met pienk materiaal versier en bewusmakingspraatjies word aangebied.

Die Caledon-biblioteek het op 17 Oktober ‘n baie suksesvolle saamtrek ter bewusmaking van borskanker aangebied. Die opening is deur ds. Dewald du Toit waargeneem en hy het ook ‘n baie bemoedigende boodskap oorgedra. Cynthia Clayton, onderburgemeester van die TWK, het die verwelkoming gedoen en ook haar jare lange ondervinding as verpleegster, wat met kankerpasiënte gewerk het, met die gaste gedeel. Clayton het vroue aangemoedig om na hul gesondheid om te sien en genoem dat vroegtydige opsporing van ‘n siekte hul lewe kan red.

Die borskankeroorwinnaar Gail Smith was die gaspreker. Die verhaal van haar kankerreis was openhartig, aangrypend, emosioneel en inspirerend. Sy het vertel hoe ‘n rekenaardrukker wat op haar bors geval het toe sy haar lessenaar geskuif het, daartoe gelei het dat sy ‘n dokter oor die besering besoek het en dat dié aanbeveel het dat sy vir ‘n mammogram gaan, waar vasgestel is dat sy ‘n gewas in haar bors het.

Voor haar toespraak het Gail haar kankerreis reg van die begin af tot nou deur ‘n foto-aanbieding met die gaste gedeel. Dit was besonder aangrypend en het ‘n eerlike insig van haar ervaring weergegee, wat veral vir mense wat nie met dié siekte vertroud is nie, baie insiggewend was. Tydens ‘n seremonie vir kankerlyers, oorwinnaars asook vir diegene wat die stryd verloor het, het Karin de Kock ‘n kers aangesteek, gevolg deur n gebed deur ds. Dewald.

Naomi Philander, maatskaplike werker by die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), het nie net ‘n insiggewende praatjie oor borskanker gelewer nie, maar ook deur middel van ‘n lewensgetroue rubbermodel van borste simptome van borskanker – soos ‘n ingekeerde tepel en ‘n knop in die bors – aan die gaste uitgewys. Sy het ook verduidelik hoe om ‘n selfondersoek van borste te doen en beklemtoon hoe belangrik dit is om dié ondersoek maandeliks te doen.

Gaste kon van KANSA se aanbod vir borsondersoeke gebruik maak en Right to Care, ‘n gesondheidsorganisasie sonder winsbejag, het bloeddrukmetings en suikertoetse aangebied. Gerhard Afrika-van Wyk van die Caledon-biblioteek het aan Hermanus Times genoem dat hierdie bewusmakingsdag weer eens ‘n groot sukses was en die belangrikheid daarvan vir die gemeenskap beklemtoom. Hy het ook alle rolspelers en borge bedank.

Die gaste het ná die verrigtinge ligte verversings geniet en elkeen is met ‘n helderpienk handdoek, wat deur KANSA geskenk is, bederf. Dié handdoeke het ook ‘n etiket op gehad, wat die selfondersoek van borste stap-vir-stap verduidelik het.

•  Kontak KANSA by: Tolvry: 0800 22 66 22, die KANSA-kantoor by 021 873 6358 of Naomi Philander per WhatsApp by 061 209 9426.

• Belangstellendes kan ook die webtuiste by www.cansa.org besoek

Naomi Philander van KANSA met die rubbermodel van borste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article