PRETORIA – Vir die eerste keer in sy geskiedenis stel die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut ‘n aanlyn opleidingsmodel bekend wat versorgingsopleiding toeganklik maak vir mense wie se lewensomstandighede nie voltydse studies in Pretoria toelaat nie.
Die nuwe deeltydse Tuissorgassistent-kursus, wat in Augustus vanjaar afskop, gee aspirant-versorgers regoor Suid-Afrika die geleentheid om ‘n geakkrediteerde kwalifikasie te verwerf sonder om hul werk, gesinsverantwoordelikhede of bestaande verpligtinge prys te gee.
Vir baie mense is tuisversorging nie bloot ‘n beroep nie, maar ‘n roeping. Tog het praktiese uitdagings soos werkverpligtinge, gesinsverantwoordelikhede, afstand en finansiële beperkings formele opleiding buite bereik geplaas.
Volgens dr. Elsha Hermann, hoof van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, is die nuwe model ontwikkel om juis hierdie struikelblokke te oorkom.



“Ons sien daagliks mense wat ‘n passie het om ander te dien, maar wat eenvoudig nie hul werk kan los of hul gesinsverantwoordelikhede vir voltydse studies kan verruil nie. Hierdie model is nie ontwerp om opleiding makliker te maak nie. Dit is ontwerp om dit moontlik te maak.”
Die hibriede opleidingsmodel kombineer aanlyn teorie met praktiese opleiding in studente se eie gemeenskappe. Studente voltooi die akademiese gedeelte vanuit hul eie huise, terwyl hulle praktiese werkservaring by goedgekeurde versorgingsfasiliteite naby hul woonplek opdoen.
Die kursus strek oor nege maande. “Die behoefte aan opgeleide versorgers neem jaarliks toe. Nie net in ouetehuise en versorgingsentrums nie, maar ook binne families, kerke en gemeenskappe waar mense daagliks na geliefdes omsien,” sê Hermann.
Gegradueerdes kan werk in versorgingsentrums, ouetehuise, mediese sorgfasiliteite of privaat tuisversorging doen. Die kursus dien ook as grondslag vir verdere studies binne die versorgings- en gesondheidsorgsektor.
Die kursus is veral geskik vir mense wat buite Gauteng woon, ouers met afhanklikes, persone wat reeds voltyds werk of enigiemand wat ‘n betekenisvolle kwalifikasie wil verwerf sonder om bestaande verantwoordelikhede prys te gee.
Aansoeke vir die eerste aanlyn inname sluit op 24 Julie en die kursus begin op 4 Augustus 2026.
Kontak: https://helpendehandopleiding.co.za
LEES OOK: Behoeftige leerders kry skooltassies op eerste dag van gr. 1(Opens in a new browser tab)





You must be logged in to post a comment.