Die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) het in vennootskap met die Endangered Wildlife Trust (EWT) ’n nuwe, omvattende leeu-opname in die Kgalagadi Oorgrenspark bekend gestel.
Die navorsingsprojek sal tot Oktober 2026 duur. Die oogmerk is om ’n beter begrip van die park se leeubevolking te verkry, insluitend bevolkingsgetalle, hul verspreiding en hoe hulle oor die landskap beweeg.
Luidens die verklaring vorm leeus ’n noodsaaklike skakel in die Kgalagadi-ekosisteem. Betroubare inligting oor die bevolking is dus kardinaal om ingeligte bewarings- en bestuursbesluite te ondersteun.
Veldspanne word oor verskillende sektore van die park ontplooi. Hulle doen voertuiggebaseerde opnames asook strategies geplaasde kamera’s om data oor die leeus in te samel.
As deel van die navorsing sal die spanne af en toe naby leeus stilhou om foto’s van hul unieke snorbaardkolle te neem. Elke leeu het ’n unieke snorbaardkolle-patroon, wat die navorsers help om individuele diere te identifiseer en ’n akkurate beeld van die totale bevolking op te bou.
Besoekers aan die Kgalagadi Oorgrenspark kan tydens die opname navorsingsvoertuie van SANParke en die EWT teëkom wat duidelik met amptelike handelsmerke gemerk is.
Parkbesoekers word versoek om voldoende ruimte aan die navorsingspanne en hul voertuie te gee en ’n respekvolle afstand van die leeus en ander wild te handhaaf.
Dit is noodsaaklik dat diere of navorsingsvoertuie nie steur word nie, dat instruksies van SANParke-personeel en navorsers altyd nagekom word.
Die inligting wat met die opname ingesamel word, sal regstreeks bydra tot die langtermynbestuur en -bewaring van leeus in die Kgalagadi Oorgrenspark.
Deur die kennis van die leeubevolking en hul bewegingspatrone te verbeter, kan SANParke en sy vennote besluite neem wat die voortgesette beskerming van leeus en die breër Kgalagadi-ekosisteem versterk, lui die verklaring.




