ATLANTIS – Die eerste keer wat ek my voet in ‘n vragmotor gesit het, was soos “love at first sight”. Ek kan nie die gevoel beskryf nie, maar ek het geweet dit is wat ek wil doen.
“Ek is lief vir wat ek doen en dit is glad nie so maklik as wat dit lyk nie. Dit is nie net ‘n werk nie, maar ‘n leefstyl; jou lewe verander die dag as jy ‘n vragmotorbestuurder word.”
Dit is die woorde van Ru-Kellen Williams (26), ‘n fyn meisie agter die stuur van ‘n massiewe vragmotor.
“Ek wou tydens my skoolloopbaan altyd ‘n dokter word,” vertel sy opgewonde. “Tydens my laerskooldae by Wesfleur het almal my as die skaam meisietjie geken. Ek het nooit baie gepraat nie en was altyd in my eie ruimte,” vertel sy.

“Namate tyd verloop het, het ek egter onseker geraak oor my toekoms en met goeie punte op skool het ek probeer uitwerk hoe dinge in die lewe werk,” vertel sy. “En daar het dinge begin verander.
“Ek het in 2017, tydens my matriekjaar, besluit om te gaan studeer, maar kon ook nie besluit wat om te studeer nie en het ‘n maand ná die matriekuitslae my eerste werk gekry,” vertel Williams, “min wetende dat dit my belangstelling in logistiek sou prikkel.”
Volgens haar is logistiek die hart van alles. “Nie baie mense besef wat alles moet gebeur voordat ‘n produk by die kassiere beland nie, en dit is wat ek wou uitvind”.
Williams vertel opgewonde dat sy by Unitrans alles oor logistiek geleer het – van ‘n rekenaarskerm tot hoe die produkte by klante kom. “Ek het egter ten spyte van ‘n goeie salaris in 2024 besluit om eerder ‘n interne vragmotorbestuurder-leerlingskap te doen, met geen waarborg dat ek wel ‘n werk gaan kry nie,” vertel sy. “Ek moes baie opoffer om vragmotors te bestuur en vandag is ek nie spyt oor my besluit nie.
“Ek is nou permanent aangestel, sien elke dag ander plekke, ontmoet wonderlike mense en voel soos ‘n toeris wat betaal word om haar land te verken,” vertel sy laggend. Volgens Williams sien sy min van haar mense, kan nie altyd by familie of vriende se gesellighede wees nie, “maar dit is die lewe van ‘n trucker”.
“Die opofferings en lang ure maak dit vir my die moeite werd om basiese produkte betyds by mense te kry, terwyl baie mense egter nie ons as vragmotorbestuurders respekteer nie.
“Dit is een van die grootste redes hoekom ek my sosiale media gebruik om mense bewus te maak van wat ons as vragmotorbestuurders moet deurmaak om die land te kan voorsien,” vertel sy.






You must be logged in to post a comment.