Die teiken is kristalhelder. Promosie. Van die Virseker Noordvaal Bowl na die Skild. Vir Potchefstroom Gimnasium is dit nie meer ‘n droom nie, dit is ‘n doelwit wat met erns aangepak word. En as jy na hul 2025-veldtog kyk, is die fondamente reeds vir iets besonders gelê.
“Ons het verlede jaar nog strukture ensovoorts in plek gekry,” verduidelik Regardt Kleingeld, Direkteur van Rugby by Gimmies. Die prosesse het duidelik vrugte afgewerp. Die o.14 en 1ste XV het albei in die Bowl-afdeling se eindstryd gespeel, met die o.14-span wat die trofee opgeëis het.
“Ons is op ‘n goeie plek, nog nie waar ons moet wees nie, maar ons kom daar. Ons het verlede jaar twee spanne gehad wat die Noordvaal Bowl-afdeling gewen het, en twee naaswenners,” het Kleingeld verduidelik.
Die vordering is ooglopend, maar Gimmies se benadering vir 2026 toon werklike strategie. Die skool het besluit om nie aan die NWU-prestige-reeks deel te neem nie, ‘n skuif wat op die oog af vreemd lyk, maar perfek sin maak as jy die groter prentjie sien. Gimmies gaan dri euitdagende interskole wedstryde speel met die oog op voorbereiding vir die Noordvaal.
“Ons het nou vier ekstra weke om voor te berei vir die Noordvaal. So ons is nie so gedruk om seuns op die veld te kry nie. Ons wil onsself teen sterker spanne toets om te sien waar lê ons, en waar is ons leemtes,” verduidelik hy.
Die wedstryde is uitdagend. Gimmies se voorbereiding skop met ‘n wegwedstryd teen Welkom Gimnasium af, waarna die spanne op hul onderskeie toere vertrek. Die 1ste XV sal by die Oakdale-toernooi hul staal teen ‘n Walliese toerspan wys. Kort na die vakansie wag Rustenburg en Duineveld.
“Niemand rig af om te verloor nie, maar wen is nie die doel van hierdie wedstryde nie. Die spanne teen wie ons speel gee net ‘n ander prentjie as wat ons in die Bowl-afdeling gewoond is. Dit gaan alles oor voorbereiding,” beklemtoon Kleingeld.
Die groot prys aan die einde van die seisoen is promosie, maar die pad daarheen is vol uitdagings. Die Bowl-afdeling het vanjaar ‘n nuwe formaat met twee poele, Oos en Wes. Gimmies is saam met Bergsig, Midstream, Centurion, Jeugland en aartsvyande Potchefstroom Volkskool in ‘n poel.
“Die moeilike ding met die Bowl vanjaar is die onbekende. Daar is nuwe spanne wat ons nie ken nie, en die formaat is ook nuut met die twee poele en die oorkruis en kwartfinales en goed,” sê Kleingeld.
Dan is daar die derby. Gimmies teen Volkies . Vir Potchefstroom is dit méér as net rugby, die dorp meet jou seisoen se sukses aan die een wedstryd. Gimmies het dié clash die afgelope drie jaar gewen. Volkies het die Bowl afdeling se eindstryd gewen, wat nie die amptelike clash was nie.
“Potch is baie bevoorreg om twee goeie Afrikaanse skole in die dorp te hê. Dié derby is baie groot in die dorp. Die gees is dieselfde wat ek tussen Paul Roos en Grey College beleef het. Die wedstryd word in goeie gees gespeel, die seuns ‘haat’ mekaar vir 70 minute maar na die tyd is almal weer vriende. Mense kan maar moeite doen om na kleiner dorpe se derbies toe te gaan,” het hy gesê.
Die Skild wink. Gimmies is gereed om die stappie te neem, veral met die nuutste borg FAIRTREE wat aanboord gekom het vir die skool se rugby.
“Hulle sien die waarde en beginsels van die skool,” het hy gesê.





